Andrew Brown (69), ’n inwoner en jarelange restauranteienaar op Yzerfontein, is Vrydag op gepaste wyse deur vriende en geliefdes in ’n stampvol Beaches Restaurant gegroet.
Brown, wat onlangs weens gesondheidsredes dood is, was bekend vir sy smullekker disse en gebak. Hy het die Beaches Restaurant 27 jaar gelede saam met ’n vennoot op Yzerfontein geopen, kort nadat hy hom hier langs die kusdorp kom vestig het. Brown was die afgelope drie jaar alleeneienaar van die gewilde restaurant, wat al vir jare ’n bekende baken op die dorp is.
Volgens sy vriendin, Jurne Brown het sy restaurant die afgelope Vrydagmiddag gedurende sy gedenkdiens uit sy nate gebars om hul vriend en Yzerfontein-geliefde te kom groet.
Brown sal onthou word vir sy lekker kos. Volgens Jurne was hy egter ’n bobaas-bakker wat die lekkerste troukoeke gebak het. “Hy was lief vir kosmaak, maar het ’n passie vir bak gehad,” vertel sy.
Brown was ook geliefd onder sy personeel wat hy volgens inwoners en restaurantgangers baie goed behandel het. Carol Sias, wat tydelik die bestuur van die restaurant oorgeneem het, kan daarvan getuig, omdat sy reeds 26 jaar lank vir hom gewerk het. Sy het haar oor die jare opgewerk tot sy regterhand en hy het sy passie vir die bedryf en vir kos aan haar oorgedra.
“Hy was ’n merkwaardige mens. Hy was streng as baas, maar het ’n persoonlike verbintenis met elkeen van sy personeellede gehad,” vertel Sias. Volgens haar het hy personeellede graag persoonlik bygestaan en seker gemaak hy ken elke aspek van hul lewe omdat hy belanggestel het. “Ons gaan hom baie mis.”
Jurne sê Brown was baie beginselvas en het opgestaan vir dit waarin hy geglo het, asook vir sy werknemers.
Hoewel die restaurant sy ‘baba’ was en sy personeel soos sy eie familie, was sy hond, Hurley (5), sy beste vriend. “Hy was baie lief vir daardie hond,” vertel sy. Hurley, bekend as “Mayor Hurley”, lê daagliks op die stoep van die restaurant en groet verbygangers, pas die straat op of gaan baljaar saam met strandgangers in die branders. “Almal ken Hurley. Hy stap gedurig deur die strate van Yzerfontein.” Jurne het die goeie nuus gedeel dat dié swart labrador sommer blitsig ’n nuwe tuiste in dieselfde straat as sy vorige eienaar gekry het.
“Hy bly steeds by die see,” sê sy verlig.
Sias voeg by dat Hurley Brown se hele lewe was. “Hurley was sy kind,” glimlag sy.





