Die nasionale seniorsertifikaateksamen (NSS) vir matriek-leerders het verlede week landwyd amptelik begin. Van die eerste vakke wat reeds afgelê is, is Engels en Afrikaans (huistaal en eerste addisionele taal), ekonomie, geskiedenis en wiskunde se eerste vraestelle.

Marléna Walters van die Hoërskool Swartland in Malmesbury weet eintlik nie hoe om haar eerste week van die NSS-eksamen te beskryf nie. Sy is wel baie verlig en dankbaar dat sy ná 12 jaar sommige van die vakke die laaste keer moes skryf. Sy beskryf die eerste Engels-vraestel as billik, terwyl die Afrikaans-vraestel se taalafdeling vir haar effens vreemd was. Verder kon sy geen vraestel as moeilik of onredelik beskryf nie.

Nienke Smit van die Hoërskool Dirkie Uys wat verlede week Engels, Afrikaans en wiskunde geskryf het, sê die eksamen was sover billik, maar is dit eens dat elke vraestel wel vreemde vrae ingehou het, wat die ervaring sover uitdagend gemaak het. “Die eerste week was nie ideaal nie, maar oukei,” voeg sy by. Smit noem wel dat sy nog genoeg motivering vir die res van die eksamen het.

Enrique La Meyer van Schoonspruit Sekondêr sê op sy beurt die vraestelle was nie moeilik nie. Volgens hom is die geheim om hard te leer. “Wat jy insit, sal jy uitkry.” Geen vak het hom tot dusver onkant betrap nie. “Leer hard en druk deur,” is sy boodskap aan mede-leerders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article