Drie mense is Vrydag 29 Julie in verskeie polisieoptredes in Wesbank en Kalbaskraal vir die handel in dwelms in hegtenis geneem.
Sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, sê die optredes was daarop gemik om dwelmverwante misdaad die hoof te bied.
Die eerste verdagte is Vrydagmiddag (29 Julie) in Sandstraat, Kalbaskraal, weens dwelmhandel in hegtenis geneem.
“Lede van die polisie het die perseel deursoek en op altesaam 400 heel mandrax-tablette, een sakkie crystal meth en R4 750,50 in kontant beslag gelê,” sê du Randt.
In nog ’n misdaadvoorkomingsoptrede in Wesbank is ’n tweede inhegtenisneming uitgevoer waar polisielede ’n deursoekingslasbrief op ’n perseel in Gousblomstaat uitgevoer het.
“Tydens dié soektog het hulle dwelms in die huis gevind en op altesaam 62 bankies crystal meth, 27 heel mandrax-tablette, een pakkie dagga en R2 377,13 in kontant beslag gelê,” sê du Randt.
Du Randt sê later die middag in dieselfde optrede is ’n deursoekingslasbrief by Chamberlanestraat, Chatsworth, uitgevoer. “In dié soektog het die polisie op 77 bankies dagga, los dagga en kontant ter waarde van R1 165,00 beslag gelê.”
Al die verdagtes het Maandag 1 Augustus in die Malmesbury-landdroshof op aanklagte van die handel in dwelms verskyn.




