Dit is dié tyd van die jaar wanneer duiktoerusting vir sommige vakansiegangers aan die Wes- en Suidkus afgestof word ter voorbereiding van die komende kreefseisoen.

Die nuutste datums waartydens kreef gevang mag word, is onlangs aangekondig.

Vanjaar se kreefseisoen begin met twee opeenvolgende dae op 16 en 17 Desember, gevolg deur 24 Desember, en dan 26 Desember 2022 tot 1 Januarie 2023 vir sewe agtereenvolgende dae. Kreefduikers sal daarna weer tot 8 en 9 April 2023 vir hul volgende vangs geduldig moet wag.

Die departement van landbou, bosbou en vissery het gevra dat mense kennis neem dat slegs mense ouer as 12 jaar ’n ontspanningsvisvangpermit mag kry. Die permit gee onder meer ook toestemming vir visvang, die versameling, beheer en vervoer of besit van tot en met slegs vier Wes-Kaapse krewe wat per dag toegelaat word.

’n Seisoenale ontspanningshengelpermit vir krewe kos vanjaar R94 en kan by die naaste poskantoor gekoop word. Dié ontspanningshengelpermit is vir die hele kreefseisoen geldig.

Kreef kan bedags tussen 08:00 en 16:00 gevang word. Die limiet per sak is slegs vier krewe per persoon per dag, terwyl die groottebeperkinge nie kleiner as 80 mm in lengte mag wees nie. Die departement stel dit duidelik dat geen kreef wat met ’n ontspanningshengelpermit gevang is, aan die publiek verkoop mag word nie. Enige kreef wat gevang, versamel of vervoer word, moet boonop heel bly.

Volgens die direkteur-generaal van die departement van vissery, Belemane Semoli, is die algehele toelaatbare vangs per dag onder meer op grond van ekologiese volhoubaarheid vasgestel. Die regulasies en reëls rakende die algehele daaglikse vangs is ook op die nuutste wetenskap en tegnologie gegrond. Volgens die nuutste verslag, wat gedurende ’n assessering vroeër in 2022 uitgereik is, is ’n drastiese afname van 58% in kreefgetalle aan die kus gemeet sedert aanvanklike doelstellings rakende die volhoubaarheid van kreefgetalle in 2006 opgestel is.

“Seebronne moet bewaar word tot voordeel van die huidige en toekomstige geslagte,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article