Wilhelm Dreyer van die plaas Rustenburg buite Malmesbury was in die middel van Mei verstom toe hy vroegoggend drie kalfies in die koeikamp sien.
Daar was agt koeie in die kamp, daarom het hy eers by almal omgestap met die groot vraag – het meer koeie dalk in dieselfde nag gekalf?
“ ’n Mens wil darem 100% seker maak dis een koei se drietjies voordat jy nuus van ’n drieling die wêreld in stuur,” sê hy. “Dis regtig besonders, want toe ek hulle vroeg daardie oggend sien, het die ma self reeds al drie kalwers skoon gelek en versorg.”
Hierdie nuus laat naburige boere se koppe draai. “Ons het al voorheen tweelinge gehad, maar dié drieling is ’n eerste vir ons,” verduidelik Wilhelm. “En as mense die resep vir hierdie drieling soek, moet hulle maar van Rustenburg se water kom haal!
“Om seker te maak al drie rooi verse met hul poenskoppies kry genoeg voeding, gee ons nou daagliks vir hulle bottelmelk – ’n mengsel van poeiermelk waarby een eiergeel ingeklits word. Twee van hulle is gretige botteldrinkers, maar die derde vers is onwillig. Dalk kry sy genoeg by haar ma,” vermoed Wilhelm.
Die drieling se ma is in 2020 gebore en het verlede jaar ’n enkele vers opgelewer.
Wilhelm se oog het ses jaar gelede tydens ’n Nampo-skou op Senepolbeeste geval. “Ek het dadelik begin navraag doen oor hierdie rooi ras met sy mooi poenskop en gladde, dik vel. Ek is toe verwys na Pieter van Wyk van Riversdal, een van die Wes-Kaap se grootste Senepoltelers. Ek het ’n bul en ’n paar verse by hom gekoop. Hoewel ek nog op my wingerde en Sussex-vleisbeeste fokus, hou ek ’n klompie Senepols as ’n stokperdjie aan.”
Oor die teorie dat verse wat as meerlinge gebore word, ’n laer vrugbaarheid kan hê, keer hy: “Vra daardie vraag eerder vir die veearts!”
Wilhelm is reeds jare lank ’n direksielid van die Windmeulkelder en dien die laaste 29 jaar as voorsitter van die Windmeul-kelderdireksie.




