Hulle was op pad om by familie in Chatsworth te gaan kuier, maar het nooit daar uitgekom nie.
Drie mense het Saterdagaand op die toneel van ’n botsing op die N7 na Malmesbury gesterf. Nog twee insittendes het die botsing oorleef en is na ’n plaaslike hospitaal geneem.
Die polisie ondersoek bewerings dat die bestuurder van die motor vermoedelik beheer verloor het. Die motor het teen ’n lamppaal gebots.
Die slag was glo so erg dat byna almal uit die motor geslinger is.
Die tragedie het hom tussen 21:00 en 22:00 op die N7-hoofweg afgespeel.
Volgens ’n familielid van een van die oorledenes was die vyf van Vredenburg af op pad om by die bestuurder van die motor se pa in Chatsworth te kom kuier. Volgens die familielid, wat nie genoem wou word, is almal van Namibië, maar woon reeds jare hier.
Hy sê een van die oorledenes is ’n Zimbabwiër.
Volgens die bestuurder se pa, wat ook nie genoem wou word nie, het sy seun hom vroeër gebel om te sê hy en vriende is op pad om te kom kuier.
“Dit was sy laaste woorde aan my totdat ek die nuus oor die ongeluk gekry het,” vertel die hartseer pa.
Volgens ’n omstander op die toneel was hy by ’n nabygeleë vulstasie toe hy die massiewe slag hoor, wat hy as ’n ontploffing met “vonke soos Kersliggies in die lug” beskryf het.
“Ek was een van die eerstes op die toneel en het die polisie gebel. Ek het gesien die insittendes is uit die motor geslinger en was verbaas dat daar enige oorlewendes is.”
Volgens ’n polisiebron blyk niks fout te wees met die motor se bande nie en hy vermoed die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor.
Volgens sers. Henry du Randt, ’n plaaslike polisiewoordvoerder, is dit in hierdie stadium onduidelik wat presies gebeur het, maar hy het bevestig dat klagtes van strafbare manslag ondersoek word.



