Die stukkende venster waardeur drie skote afgevuur is.


Lede van Malmesbury Veiligheid en die plaaslike polisie het vanoggend (Dinsdag 17 September) omstreeks 01:00 op ’n skietvoorval op ’n plaas in die Paardeberg-gebied in die Swartland gereageer.

Die eienaar van die plaas het om 00:55 ’n boodskap op Malmesbury Veiligheid se noodveiligheid-WhatsApp-groep gestuur wat sê dat ’n gewapende aanval plaasgevind en skote sopas afgevuur is.

Volgens Uys van der Westhuizen van Malmesbury Veiligheid (MV) is stelsels onmiddellik geaktiveer en lede van die Malmesbury-polisiekantoor het in groot getalle, tesame met die plaaslike honde-eenheid, forensiese personeel en lede van omliggende polisiekantore hulle na die toneel gehaas.

“Landbouers en inwoners van die dorp het gehelp om die gebied te oorheers. Ek glo die teenwoordigheid van MV het gehelp om te keer dat die situasie vererger.” Van der Westhuizen het elkeen bedank wat nie geskroom het om te reageer en te kom help nie.

Die man en sy vrou, wat in daardie stadium geslaap het, het met die polisie se aankoms op die toneel vertel dat hulle hul honde buite hoor blaf het, het die polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, gesê.

“[Die man] het opgestaan en iemand by sy slaapkamerdeur (wat na buite toe uitloop) in Afrikaans hoor vra dat hy die deur moet opmaak. Die klaer het gereageer deur te sê dat hy die polisie gaan bel. Drie skote is direk daarna afgevuur.”

plaasaanval

Die stukkende venster waardeur drie skote afgevuur is.

Een van die koeëls is deur die blindings.

Spore wat vermoedelik aan die verdagtes behoort en op die toneel aangetref is, stem ooreen met die spore wat omstreeks 08:30 deur die polisie naby die Klipheuwel-teerpad gewaar is.

Die slagoffer het volgens die polisie nadat die skote afgevuur is deur die venster gekyk en twee verdagtes gesien.

Volgens Du Randt het die egpaar geen beserings in die voorval opgedoen nie. Die paniekknoppie is gedruk wat die verdagtes glo skrik op die lyf gejaag en te voet van die toneel laat vlug het.

Niemand is sover in hegtenis geneem nie en drie verdagtes word gesoek.

’n Saak van poging tot moord word tans deur die polisie ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article