Malmesbury se bekende huisdokter, dr. Johannes Brits (78), roep die dorp en sy inwoners vaarwel.
Hy tree ná 41 jaar as dokter by sy praktyk in die Drie Gewels-sentrum in Malmesbury af. Na regte tree hy op 30 November ná 47 jaar amptelik uit die mediese sektor ná wat hy beskryf as “onophoudelike werk”.
“Daar is ’n leemte wanneer ek dink aan my aftrede, maar daar is ’n einde aan alles, en die tyd het nou aangebreek,” vertel hy met gemengde gevoelens.
Hy sien daarna uit om nou gehaltetyd saam met sy vrou, Irma, deur te bring, maar erken hy gaan sy pasiënte baie mis.
Dr. Brits het vir sy mediese graad aan Tukkies (die Universiteit van Pretoria) studeer. Hy onthou sy koshuisverblyf as kosbare vormingsjare; só ook sy huisdoktersjaar (Zuma-jaar) in Kroonstad.
Dr. Brits het vir die eerste ses jaar van sy loopbaan in Kroonstad en later in Sasolburg gewerk voordat hy terugkeer het na die Kaap, waar hy gebore is.
“Kroonstad was baie belangrike vormingsjare. Ek het onder ervare mense gewerk en dus ’n goeie grondslag gehad,” vertel hy.
Dr. Brits wou nog altyd weer teruggaan na die Wes-Kaap. Geluk was aan sy kant toe ’n plaaslike dokter op soek was na ’n nuwe vennoot.
Hulle het in 1981 sak en pak na Malmesbury verhuis, waartydens hy by dr. Wahl, ook ’n legendariese inwoner van sy tyd in die dorp, aangesluit het. “Ons het nooit weer teruggekyk nie,” vertel hy met ’n glimlag.
Die hoogtepunte van sy loopbaan, is gewis sy pasiënte. “Ek het goeie pasiënte deur die jare ontmoet, en dit was ’n voorreg om tot hul diens te kon wees,” vertel hy met groot dankbaarheid.
Dr. Brits brei verder uit en vertel hoe baie van sy pasiënte oor die jare goeie vriende geword het. “Dit gaan swaar wees om nie meer tot hul diens te wees nie,” sê hy.
Hoewel sy loopbaan lang ure en onophoudelike diens ingehou het, het hy dit geniet. Hy beskryf sy personeel by die praktyk as ’n “spul rose”. “Dit maak nie saak of ek die dag kwaad hier instap nie, hulle het my altyd laat beter voel. As jy hier inkom, was daar altyd ’n vriendelike gesig. Ek was bevoorreg om saam met so ’n klomp hoëgehaltemense te werk.”
Hy en Irma trek volgende jaar ’n klipgooi verder na die Fairtrees-aftreeoord in Durbanville.
Dr. Brits sê dit is belangrik dat mense nie moet vereensaam wanneer hulle hul aftrede bereik nie.” Hy sê mense moet sosialiseer, lag, gesels en kommunikeer. “Ons is kuddediere en ons kan nie alleen funksioneer nie.” Daarom is die aftreeoord die ideale toevlug.
Daar gaan hy sy liefde vir tuinmaak voortsit. Die Brits-woning pronk juis met ’n indrukwekkende tuin.
Lees is sy ander stokperdjie en hy sê hy is nog nie te oud vir leer nie. Hy sien daarna uit om meer oor die wonders van die natuur te leer. “Ek gaan nie stilsit nie,” herinner hy almal.
Dr. Brits, die pa van drie kinders en oupa van ses, sien uit na sy aftrede. Hy het ook reeds van die inwoners by die aftreeoord ontmoet en sien daarna uit om hulle beter te leer ken.
Hy gaan die dorp self egter baie mis. “Ek sê altyd ons woon in Kanaän. Hierdie is ’n top-dorp en het alles wat jou hart begeer. Al waaroor mense kan kla, is die hitte,” skerts hy en sê dit gaan lekker wees om tyd saam met sy vrou, met wie hy al 50 jaar getroud is, deur te bring.
“Ek het baie ure vir my pasiënte gegee; nou kry my vrou voorkeur.”





