’n Inwoner van Robertson se geliefde troeteldier is weens verlede week se die swaar weer steeds net skoonveld.
Cornelia Hough, ’n skoonheidsterapeut van die dorp, sê haar geliefde Fifi het Saterdagaand (4 Maart) weens die donderweer weggehardloop en is sedertdien nog soek. ’n R 1000 beloning word nou aangebied.
Fifi is ’n miniatuur Doberman Pincher gekruis met ’n Jack Russel, en word in April nege jaar oud.
Dié hondjie is alles in Hough se lewe.
“Ek is baie lief vir haar en hierdie is ’n groot slag. Ons hoop en bid iemand sal haar kry. Haar plekkie is baie leeg. Sy was nie gewoond aan die donderweer nie en het op ’n manier uitgekom en weggehardloop,” vertel Hough aan Gazette.
Fifi het vermoedelik deur die watersloot ontsnap vanuit die erf in Markstraat.
“Ons soek nog die hele tyd en baie mense het al gesê hulle het ’n hondjie wat vermoedelik Fifi is, naby die polisiekantoor gewaar, maar sy is rats en sal ook nie sommer na enigeen toe gaan nie. Ons vermoed sy kon dalk in die rigting van die Affieplaas-padstal teen die R60 gehardloop het.”
Hough sê enige hulp om Fifi op te spoor word waardeer. . Enigiemand met inligting kan Hough by 082 227 5083 of 082 663 5005 kontak.





