Terwyl derduisende matrikulante regoor Suid-Afrika die afgelope week die voltooiing van hul skoolloopbaan gevier het, is daar ook diegene wat hul matriekjaar sal moet herhaal.
Marionette Strydom, ’n afgetrede sielkundige en jeugberader van Robertson, het al meer as dertig jaar ondervinding in berading en het al talle jongelinge gehelp om mislukking in sukses om te swaai.
Die matriekgroep van 2022 het ’n amptelike slaagsyfer van 80,1% behaal, hoewel die opposisiepartye meen die eintlik slaagsyfer is nader aan 50%.
In die Langeberg- en Breedevallei-streek is ’n groot aantal leerders wat nie die afgelope nasionale eindeksamen geslaag het nie.
“Daar kan verskeie redes wees. Sommige skole in ons land het nie genoegsame hulpbronne of leerkragte om kinders ten volle vir die eksamen toe te rus nie. Dit kan een vak vat om jou jaar te druip. Ons onderwysdepartement gaan meer gereeld besoek moet aflê aan skole om die werklikheid te kan sien,” vertel sy aan Gazette.
Sy verduidelik ook dat sommige ouers en onderwysers eerder die kind sal blameer as om ondersteuning te bied.
“Ons is ook geneig om kinders die skuld te gee as hulle druip en hulle slegter te laat voel as wat hulle reeds voel. Hierdie kraak ’n kind af en kan langtermyngevolge hê. Ons moet eerder die leerder leer om verantwoordelikheid te neem vir hul aksies en hulle touwys maak oor hoe om die slegte dinge in die lewe te ervaar en van daar af weer op te bou. As ons bloot net gaan skel en hulle sleg gaan laat voel, gaan ons hulle verder wegdryf van ’n punt waar hulle sukses gaan bereik.”
Sy sê sy werk elke jaar met kinders wat hul matriekjaar gedruip het, en het baie suksesverhale en ook talle hartseerverhale om te deel.
“Jong mense is baie meer vatbaar vir depressie. Sosiale media en mede-leerders kan soms ’n groot invloed hê op hul lewe en hoe hulle voel. As hulle dan reeds by die skool en op sosiale media aan negatiwiteit blootgestel word, is dit vir hulle nog erger as dit van ouers of volwasse figure in hul lewe kom.”
Strydom sê sy probeer nie die blaam oorskuif nie, maar sê ’n mens moet eerder positief en proaktief optree.
Sy gee toe en verduidelik dat dit ook dikwels die leerder se eie toedoen is wat daarheen gelei het.
“Drank, dwelms of selfs net ’n nie-omgee-houding is ook van die faktore wat tot die leerder se onderprestasie kan bydra. Ons as ouers en onderwysers moet fyn oplet en eerder hulp verleen as wat ons die kind uitkryt as lui of ’n moeilikheidmaker.”
Sy sê sy het baie respek vir onderwysers en weet hul taak is nie maklik nie.
“Klaskamers is oorvol. Kinders het nie altyd respek nie en het baie energie, wat hulle soms verkeerdelik kanaliseer. Onderwysers is baie spesiaal. Dit is werklikwaar of hulle ’n supermag – soos strokiesprenthelde – het. Dit is waar wat die gesegde sê oor ‘met groot supermag, kom groot verantwoordelikheid’.”. Strydom gee raad aan ouers en leerders wat nie matriek geslaag het nie:. Kyk of jy jou vraestelle kan laat hersien – veral as dit een of twee is waar punte dalk kort. Probeer dadelik by die betrokke onderwysers uitkom en vra raad oor hoe die leerder vanjaar kan verbeter. As ernstige kwessies knel, kry die leerder by ’n berader of sielkundige uit, wat hulp kan verleen. Probeer die leerder motiveer om meer tyd agter die boeke deur te bring, en as dit moontlik is, kry ekstra hulp vir die vakke wat hom of haar kniehalter – selfs ’n vriend of vriendin wat goed is in die vak of ’n onderwyser sal kan help. Probeer om hulle by te staan en eerder saam met hulle op iets positief te fokus – 99% van die tyd voel hulle reeds sleg en skaam oor die feit dat hulle dit nie gemaak het nie. Kry hul kop weer gereed en gerat vir die taak wat voorlê. Dit sal hom of haar nodige vaardighede help aanleer.. Praat met ander ouers in dieselfde bootjie en kyk na alle aspekte wat dalk tot die teleurstelling bygedra het. Die probleem is dalk iets wat ’n ander aanslag verg.. Probeer is die beste geweer. Soms faal ons, maar ons kan altyd kies om weer op te staan en weer te probeer





