Talle inwoners van Droëheuwel in Robertson is ontstig weens ’n vermeende gebrek aan dienslewering – ná jare se klagtes het die meeste steeds geen aandag kry nie.

Gazette het telkemale al berig oor hierdie gemeenskap se pleidooi aan die plaaslike Langeberg-munisipaliteit met betrekking tot dienslewering en hul behoefte tot net die basiese dienste.

Water, behuising, sanitasie en elektrisiteit – dít is wat inwoners in hierdie woongedeelte eis.

Gazette het in 2019 verslag gedoen oor die haglike omstandighede en sedertdien blyk dit nie veel het al verander nie.

“Dit is maar nog eintlik presies dieselfde, maar sommige dae voel dit erger. Beloftes word gereeld gemaak, maar ons word steeds afgeskeep. Dit is mos nie regverdig nie?” sê Galinda Cupido.

Gazette het in 2019 ook ’n onderhoud met Cupido gevoer ná talle klagtes oor die vermeende gebrek aan dienslewering.

“Mense moet steeds ver stap vir water. Ons kinders moet steeds tussen die vullis speel en skool toe stap. Sommige dae voel ’n mens soos ’n nikswerd as jy hier woon – ons voel vergete,” het sy bygevoeg.

Ander inwoners hier voel weer sekere dienste het wel verbeter.

“Ons sien meer amptenare in die omgewing en ons raadslede probeer hul bes. Hier ís uitdagings, en sommige mense het dit erger, maar Rome is ook nie in ’n dag gebou nie. Ons moet net aanhou druk toepas. In hierdie stadium ervaar ons ’n klein verbetering sedert 2019, maar hier is nog ’n lang pad wat gestap moet word,” verduidelik Willem Arries, ook ’n inwoner hier.

Die Langeberg-munisipaliteit meen egter hierdie is ’n onwettige informele nedersetting en die munisipaliteit het nie begroting beskikbaar vir behuising of ander dienste nie.

Danie Lubbe, die munisipale bestuurder, moedig inwoners aan om hul name op die behuisingsdatabasis na te gaan en op te dateer.

“Ons personeel sal ook help met nuwe aansoeke en registrasie vir subsidies indien mense wat aansoek doen, daarvoor kwalifiseer. Enigiemand wat aan die onderstaande vereistes voldoen, kan deelneem. Slegs een aansoek per huishouding sal aanvaar word.”

Om vir ’n behuisingsubsidie te kwalifiseer, moet jy: . ’n Suid-Afrikaanse burger wees en 18 jaar of ouer wees, getroud wees of ’n langtermyn-lewensmaat hê, of enkellopend, met finansiële afhanklikes. . Jy moet ’n bruto inkomste van minder as R3 500 per maand per huishouding verdien. Mense wat meer as R3 500 tot R22 000 per huishouding verdien, kan vir subsidies registreer;. Jy mag nog nooit voorheen ’n subsidie vir behuising ontvang het en nooit ’n eiendom besit het nie.

As jy kwalifiseer, kan jy Vrydag 19 Mei tussen 08:30 en 16:30 by die dorpsaal in Robertson aanmeld, of Saterdag 20 Mei tussen 09:00 en 13:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article