’n Petroljoggie van Malmesbury het pas sy debuutdigbundel vrygestel.
Ernest Mnyaka werk van Desember 2015 af as petroljoggie by die Engen-vulstasie in Malmesbury. Hy kom oorspronklik uit die Oos-Kaap, maar het hom in die Swartland kom vestig.
Die lewe het – soos met die meeste van ons – ’n paar draaie met Ernest geloop. As ’n rebelse jongman het hy nie ag geslaan op die raad en leiding van sy ouers nie, en dit het hom uiteindelik met die vier hoeke van die gevangenis laat kennis maak. Hier het hy tot sy sinne gekom en besef die tronk is nie ’n plek waar enige mens hom of haar moet bevind nie.
Dit was egter ook hier waar hy die tyd gehad het om op sy lewe te begin reflekteer. Dit het hy gedoen deur gedigte te begin skryf. Die gedigte beskryf sy opregte berou wat hy betoon teenoor sy ouers en die mense wat in sy dae as rebelse jongman hy leed aangedoen het. Dit bevat ook intieme lewenslesse wat hy oor die jare geleer het.
Hy het vir langer as 10 jaar aan sy gedigte geskryf en nooit gedroom dit sou op ’n volwaardige digbundel uitloop nie.
Sy debuutdigbundel, Waphela Umda kaLova! (dit beteken “Die einde van die pad vir ’n boef”) word einde Oktober in Malmesbury se Ningulethu-sportsentrum bekend gestel. “Die eerste keer toe ek sy inspirerende kunswerk onder oë gehad het, het ek net geweet dit moet gepubliseer word om bewustheid te kweek vir die waardevolle lewenslesse wat daarin opgesluit lê,” vertel Dudu Xaba, die stigter en eienaar van Mpande ye Hlumelo-uitgewers in Malmesbury.
Ernest skryf alles wat tot nou met hom gebeur het, toe aan die plan wat God met sy lewe het. Hy sien tans sy lewe as ’n tweede kans wat God hom gee om van voor af te begin en veral die jeug te inspireer om beter besluite rakende hul toekoms te neem. “Ikamva Lam”, een van die gedigte in sy debuutbundel, gaan oor sy spyt oor die verkeerde keuses wat in sy lewe hy gemaak het en hoe hy by God pleit om hom te help om nooit weer die pad van misdaad te loop nie. In nog een van sy gedigte, “UThixo nguBawo”, verwoord die skrywer die onvoorwaardelike liefde van God en hoe gebed hom deur die moeilikste tye in sy lewe gedra het en steeds doen.
“Ernest is so ’n sagte mens met ’n positiewe lewensuitkyk. Toe ek van sy storie te hore kom en sy droom om dit deur gedigte in boekvorm te publiseer, kon ek nie anders as om hom hierin te ondersteun nie,” vertel sy werkgewer, Gey Kriek, die eienaar van Engen Malmesbury.
Ernest sê hy wil met hierdie boek die boodskap aan jongmense oordra dat dit nooit te laat is om die regte koers met jou lewe in te slaan nie.
Ernest se debuutbundel is beskikbaar teen R150 en kan gekoop word by Engen Malmesbury, Voortrekkerweg 45.





