Nadat Darling sy eerste wedstryd van die Boland-Grootuitdaagbeker-kompetisie van die Swartland-streek teen Villagers Wittewater naelskraaps met 27-26 verloor het, het hy teruggebons en ná drie goeie oorwinnings pronk hy weer.
Die eerste derby-ontmoeting tussen die twee buurmanne is Saterdag op ‘n volgepakte Mamre-sportterein beslis, met die manne in swart en wit as die buiteperd vir die belangrike kragmeting.
Nadat Darling se derde (19-3) en tweede (15-10) spanne teen Mamre slae gekry het, het die toeskouers in spanning op die swaargewigte gewag om op te draf.
‘n Wedstryd wat hoë verwagtinge gekoester het, het weens talle hanteerfoute en swak dissipline aan beide kante nie aan die verwagtinge voldoen nie.
Die wedstryd het eers ná 15 minute vlamgevat toe Mamre die bal van ‘n vassteskrum af beheer en vorentoe begin dryf het, wat tot sy eerste drie vir ‘n voorsprong van 7-0 gelei het.
Die jong Tyrique Oppelt van Darling, wat in net sy sesde wedstryd gespeel het, het met sy eerste strafskop pale toe verbrou, maar met sy tweede poging seker gemaak hy voeg drie punte op die telbord.
Mamre se tweede drie is van ‘n lynstaanbal behaal – een van sy sterk punte in die wedstryd. Edwill Okkers se doelskop was ongelukkig mis en Mamre het met 12-3 voorgeloop.
Darling het egter net voor rustyd met ‘n maalbeweging terruggeslaan toe Twyne Skein langs die pale oorval vir Darling se eerste drie, wat Oppelt verdoel het om die telling tot 12-10 te laat aanskuif.

Ná rustyd het Darling Mamre se sterkpak les laat opsê en weg van die bal af gestoot en tot foute gedwing. Mamre, wat met rukke en stote gespeel het, het Okkers vir 10 minute ná ‘n hoogvat op ‘n Darling speler verloor, wat verder tot Mamre se dilemma gelei het.
Hoewel hy met 15 minute spel oor sy derde drie van ‘n lynstaan af behaal het, kon Okkers terug op die veld nie met die doelskop slaag nie.
Darling het hergroepeer en vyf minute later Mamre van sy eie medisyne gegee en van ‘n lynstaanbal af gerolmaal en langs die pale gedruk met die jong Oppelt wat die belangrike doelskop oorgeklits het om 17 elk gelykop te trek.
Die laaste vyf minute het Darling Mamre in die vasteskrums in hul 22m-gebied gedruk totdat hy vou, wat tot ‘n strafskop gelei het.
Groot was die druk op Oppelt se skouers toe hy pale toe korrel, maar hy het seker gemaak dat hy die bal suiwer deurjaag vir ‘n oorwinning van 17-20.
Mamre sal in die week gewis op die foute van die wedstryd wil konsentreer voordat hy eerskomende Saterdag (5 April) die liga-voorloper en 2024 kampioen, Abbotsdale, in sy agterplaas pak.
Ander uitslae:
• Swartland
Never Despair 21-10 Porterville, Saron 27-31 Abbotsdale, Moorreesburg 26-36 Wesbank, Riebeeck United 33-35 Villagers Wittewater, Voorberg 13-45 Good Hopes.
• Weskus:
Steenberg Cove 31-27 Goedverwacht, Hopefield 39-45 Paternoster, Velddrif 37-33 Saldanha, Young Hearts 43-35 St. Helena.






You must be logged in to post a comment.