’n Hoërskool wink vir Darling. Dié nuus is onlangs deur die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) bevestig nadat sommige inwoners van die dorp hul misnoeë uitgespreek het toe inwoners van ’n skoolkoshuis gevra is om ’n ander heenkome te begin soek.
Die koshuisgebou, wat langs Laerskool Darling geleë is, se fasiliteite is volgens die WKOD nie vir die huisvesting van leerders gebruik nie.
Die koshuis se fasiliteite, wat deur die laerskool bestuur word, is daarom voorheen aan inwoners vir verblyf uitverhuur.
Intussen is met die laerskool ooreengekom dat die fasiliteite in die toekoms as ’n hoërskool gebruik sal word.
“Die doelwit van die WKOD bly daartoe verbind dat daar gedurende 2023 ’n hoërskool op Darling sal kom,” sê die direkteur van kommunikasie, Bronagh Hammond.
Dit is juis om dié rede dat die laerskool kennis aan die betrokke inwoners van die koshuis gegee het om te ontruim.
Werknemers by die WKOD se distrikskantoor in Malmesbury het ook intussen van die koshuis se fasiliteite gebruik begin maak terwyl opknappingswerk aan hul bestaande kantoor gedoen word.
Verdere inligting rakende die hoërskool is nog nie bekend nie.




