Agter van links staan Tewie Roos, uitvoerende beampte van Darling Brew saam met sy span op 25 Mei by die African Beer Cup 2024 by die Jack Black-brouery in Kaapstad.


Die Swartlandse mikrobrouery in Darling het ’n ongelooflike nege pryse by die onlangse African Beer Cup-prysuitdeling opgeraap.

Darling Brew het op 25 Mei skoonskip gemaak met hul deelname aan dié gesogte kompetisie toe hulle teen ander mikrobrouerye op die Afrika-vasteland meegeding het.

Die prysuitdelingsgeleentheid het by die Jack Black-brouery in Kaapstad plaasgevind.

Die pryse is onder meer deur die produkte Warlord Imperial IPA, Break Free Gluten Free Lager, Arrowhead Russian Imperial Stout, Just Naked Lager, Pixie Dust, Golden Weissbier, Rogue Pony Pale Ale, Bone Crusher Wit Beer, Mayhem Master Brett IPA en die Wanderer Pilsner losgeslaan.

Volgens Tewie Roos, uitvoerende hoof van die gewilde brouery, kan die prestasie aan ’n kombinasie elemente toegeskryf word.

“ ’n Klomp faktore moet bymekaarkom om dit reg te kry, naamlik toegewydheid en ’n goed opgeleide span, goeie prosedures en prosesse, asook aandag aan die detail,”

 verduidelik hy.

Hy meen die belangrikste is om trots te wees op dit wat jy doen en dit te geniet.

“Ons belê regtig baie in die ontwikkeling van ons mense,” voeg hy trots by en sê hy glo dit vervul ’n groot rol in hul sukses.

Hoewel Darling Brew nog slegs op plaaslike vlak deelgeneem het, is mededinging teen internasionale brouerye deel van hul toekomsplanne.

Inwoners en aanhangers kan binnekort uitsien na opwindende nuus wat die brouery weer tot nuwe hoogtes sal neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article