Chantelle Prins (16), ’n gr.11-leerder aan die Langeberg Sekondêre Skool in Robertson, is op pad Duitsland toe.

Credit: SYSTEM

Een van die 16-jarige Chantelle Prins se drome het waar geword – om op ’n vliegtuig te klim en die eerste keer ’n oorsese avontuur aan te pak.

Chantelle is ’n gr. 11-leerder aan die Langeberg Sekondêre Skool in Robertson en is op pad Duitsland toe.

Chantelle het in ’n telefoniese onderhoud opgewonde, dog senuweeagtig, aan die Breederivier Gazette gesê sy is een van ses hoërskoolleerders vanuit die Kaapse Wynland-distrik wat gekies is om aan ’n uitruilprogram deel te neem.

Hiérdie avontuur sluit in om Duitsland vir twee weke lank te gaan verken deur onder andere ’n skool te besoek en te leer presies hoe daardie land se leerders opgevoed word.

Dié ster-student van Robertson, wat gereeld met akademiese prestasies spog en goeie punte huis toe bring, vertrek op 20 Augustus – op haar 17de verjaarsdag – van die Kaapstad-lughawe na Duitsland en keer op 31 Augustus terug.

Sy is nog nie seker watter dorp en skool sy gaan besoek of waar sy gaan bly nie, maar hierdie inligting sal vandeesweek aan die opgewonde tiener verskaf word.

“Langeberg Sekondêre Skool se skoolhoof het my gevra of ek Duitsland toe wil gaan, en ek het dadelik ja gesê, maar ook eers gedink dit is net ’n grap. ’n Paar dae later het die skoolhoof my weer ingeroep om daaroor te praat, en ek het besef hy is ernstig,” het Prins verduidelik.

Volgens haar het sy tans gevoelens van beide “oorweldig en senuweeagtig” weens die taalverskille tussen Suid-Afrika en Duitsland, maar sy is ook “opgewonde”.

Sy het verder verduidelik haar familie is “baie trots” op haar.

Daarbenewens het haar maats by die skool geskimp sy moet vir hulle geskenke bring.

Prins het ook laggend verduidelik haar skoolvriende het gesê wanneer sy weg is, sal die skool “stil wees” sonder haar in die klas.

Volgens haar sal dié besoek R30 000 kos, waarvan haar pa R15 000 sal opdok en die skool die ander helfte.

Dié slimkop se toekomsplanne is ook reeds uitgelê en sy beplan om aptekerswese aan die Universiteit van die Wes-Kaap (UWK) te studeer.

Haar skoolvakke sluit in fisiese en lewenswetenskappe, geografie en wiskunde, waarvan lewenswetenskappe haar gunsteling is.

Indien enigiemand ’n finansiële bydrae wil maak, kan die Langeberg Sekondêre Skool geskakel word by 023 626 3579.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article