Chanèl Kleinhans kort nadat sy as wenner van die ATKV-DigiSkryf-kompetisie gekroon is. Foto: Nanette Kleinhans


Chanèl Kleinhans (13), ’n gr. 7-leerder aan die Laerskool Swartland, is onlangs as die wenner van die jaarlikse ATKV-DigiSkryf-kompetisie in haar ouderdomsgroep aangewys.

Woordsmede is genooi om vir vanjaar se kompetisie skryfstukke met die temas “Seisoene”, “Liewe dagboek” of “Die snaakste van alles”, in verskillende afdelings in te skryf.

Die beoordelaars meen vanjaar se inskrywings was weer eens van hoogstaande gehalte en het gesê dit was ’n voorreg om die inskrywings te lees en te beoordeel.

Chanèl, wat onder die gr. 6- en gr. 7-ouderdomsgroep val, het die tema “Seisoene” gekies en met haar onderwerp, Liefde, al die ander inskrywings met ’n A++ uitgestof.

Volgens haar ma, Nanette Kleinhans, was Chanèl in die wolke toe sy die nuus Donderdag ná skool ontvang. “Sy het omtrent gegil,” lag sy.

Die leesgogga het eers in gr. 3 behoorlik gebyt toe sy haar gunstelingskrywer, Fanie Viljoen, se Lulu-reeks onder oë gekry het. En hoewel Chanèl vir genot lees, is sy ook ’n voltydse resensieskrywer vir Penguin Random House en Lapa Uitgewers, NB Uitgewers en vir die skrywer Pam McMillan. Haar eerste resensie wat sy geskryf het, was in 2020 vir die plaaslike skrywer Helène de Clerq se boek, ’n Vreeslike gevloekery.

Die DigiSkryf-beoordelaars moedig deelnemende skrywers aan om nie op te hou skryf nie en veral met hul vertelstyl te eksperimenteer. Meer dialoog en minder vertelling sou sommige verhale kon verbeter, is hul raad. Deur eerder te wys hoe ’n karakter deftig, kwaad of moedeloos optree as om dit te vertel, kan verhale wesenlik verbeter, sê die beoordelaars.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article