Die Swartland-munisipaliteit se brand- en reddingsdienste het verlede week hul negende brandweerwa in ontvangs geneem – ten volle toegerus met noodsaaklike toerusting om enige brand te kan blus, noodtoestand by te staan of selfs af te weer.
’n Verheugde Roysten Harris, Swartland se brandweerhoof, het verlede week hul nuutste toevoeging ter waarde van sowat R3,6 miljoen tot die vloot aan raadslede by die Alphastraat-sportterrein bekendgestel.
Volgens Harris was die nuwe brandweervoertuig nodig om ’n doeltreffende en beter diens aan die gemeenskap van die streek te kan lewer. “Hier moet jy bewys jy het dit nodig. Die Swartland-munisipaliteit mors nie geld nie.”
Die voertuig, waaraan bouwerk sowat ’n jaar lank geduur het, dra tans 3 000F water en kan nou tot 3 500 liter water per minuut lewer, wat doeltreffendheid verseker. Dit is verder toegerus met skuimvermoë en wateraanwysers aan beide kante van die voertuig, wat die bemanning wys hoeveel water nog oor is om doeltreffendheid te verseker.
Die brandweerwa is vierwielaangedrewe en outomaties vir volhoubaarheid, word deur drie brandbestryders beman en het ’n leer van 10 m lank. “Dit is ook die eerste keer in die brandweer,” het hy opgewonde gesê.
Die brandweerwa is nie net toegerus vir huise of geboue nie, maar ook vir voertuie wat in ’n botsing betrokke was.
Harris is dankbaar teenoor die munisipaliteit se direkteure en raadslede, die Wes-Kaapse provinsie, die vervaardigers FES Manufacturing en JB’s Nissan vir hul ondersteuning en samewerking om die voertuig tot hier te kry.
’n Soortgelyke voertuig, waarvoor altesaam R926 000 van die Wes-Kaapse regering bewillig is, word nog gebou.
“Mense moet besef dat ons altyd ‘laat’ gaan wees vir ’n brand. Ons het nie die brand begin nie. Die belangrikste om van ons departement se kant af te onthou, is om die voertuie op te pas vir volhoubare dienslewering, vinniger uit die stasie te beweeg, en by die padreëls te hou.”
Colin Deiner, direkteurshoof van rampbestuur en brandweerdienste in die Wes-Kaapse provinsie, het die munisipaliteit geloof vir hul indrukwekkende brandweerdienste. “Baie mense sal op verskillende maniere kyk hoe goed ’n munisipaliteit is. Ek kyk na hoe jy na jou brandweerdiens kyk. En as ek na hierdie munisipaliteit kyk, kan ek sien julle kyk na jul brandweerdiens.”




