’n Plaaslike familieonderneming het Dinsdag die taak op hulself geneem om die posbussies by die Malmesbury-poskantoor op eie onkoste skoon te spuit.
Petri Bosch, die eienaar van Bosch Services, het die onderneming in 2021 saam met sy familie begin, waar hy huishoudelike vullis herwin en waar hy ook munisipale straatdromme met skoonmaakmiddels skoonspuit nadat dit deur die munisipaliteit leeggemaak word.
Bosch het besluit om voortaan die bussies by die poskantoor een keer ’n week gratis skoon te maak as sy manier om aan die gemeenskap terug te gee.
Bosch is lid van die plaaslike sakekamer en is betrokke by die komitee wat geoormerk is om saam met die gemeenskap te werk om die poskantoor se gebou te herstel.
Die plan is om die gebou oor te verf, die dak te herstel en ’n veiligheidsheining om die perseel te sit.
Bosch sê hulle het skenkings nodig en nader die gemeenskap en sakeondernemings om met skenkings te help om die poskantoor te herstel.
Swartland Gazette het vroeër berig die Malmesbury-sakekamer het ’n ooreenkoms met die SA poskantoor gesluit waarvolgens sakelui die gebou op eie koste sal skoonmaak en beveilig (“Sakekamer maak poskantoor weer mooi”, 14 Junie 2022).
Malmesbury Veiligheid het toestemming verkry om veiligheidskameras aan te bring om veral nagtelike wanpraktyke in die omgewing te beperk.
Colin Majiet, ’n skoonmaker by die poskantoor, sê elke oggend voel soos ’n nagmerrie vir hom. “Die manier hoe mense rommel strooi en hulself teen die posbussies verlig, laat my siek voel, want ek is die enigste een wat daar moet skoonmaak,” sê hy.
Majiet sê sy werk is eintlik net om die parkeerterrein skoon te hou deur papiere en blare op te vee. “Openbare toilette is beskikbaar, so hoekom moet mense hulself steeds teen die posbussies verlig en selfs by die boom in die parkeerarea urineer?” vra hy.
Majiet spreek ook sy dank uit aan Bosch Services, wat nou die posbussies een keer ’n week kom skoonmaak en die stoep afspuit.
“Hulle maak dit mooi skoon, spuit dit af met ’n hoëdrukspuit en doen die ekstra moeite om die stoep met hul gereedskap skoon te skuur,” voeg Majiet by.


