Die gemeenskap van Robertson is opnuut omgekrap omdat ’n bekende rugbyspeler van die dorp se borgtog Woensdag teengestaan is.
Die man is sedert sy inhegtenisname in Januarie al in aanhouding. Hy staan tereg op aanklag van geslagsgebaseerde geweld (GBV). Volgens die polisie se dossier het hy glo sy vriendin in Januarie aangerand. Sy het in die hospitaal beland met verskeie blou kolle op haar hande en twee blou oë. Dokters het aanvanklik vermoed haar skedel is gekraak, maar nadat die swelling gesak het, het hulle ontdek dit is nie so nie.
Verskeie verhore is al gehou voordat die hof Woensdag beslis het borgtog gaan geweier word. Volgens kolonel Russel Koeries, die hoof van die Robertson-polisie se speurtak, het hulle borgtog weens die erns van die saak teengestaan.
“Hy bly in aanhouding tot sy volgende verskyning op 11 Mei. Ons het besluit om borgtog teen te staan weens die erns van die saak en vir die vrees dat dit moontlik weer kan gebeur,” verduidelik Koeries.
Hy voeg by die rede hoekom dit so lank gevat het om die borgtogaansoek af te handel, is omdat beurtkrag hulle gedwing het om die verhore soms uit te stel.
Hy sê ook gerugte dat die saak teen die beskuldigde teruggetrek is, is onwaar.
Die gemeenskapsaktivis Joanie Visagie-Jantjies meen Woensdag se uitspraak oor die borgtog is onregverdig teenoor die beskuldigde.
“Daar heers baie onregverdigheid in hoe hierdie saak hanteer word. Die mense in Robertson is baie omgekrap oor hoe hierdie saak hanteer word. Selfs die landdros wat die saak aanhoor het, het gesê niemand van die gemeenskap het in die hof beswaar gemaak teen borgtog nie. Sy sê ook sy sien hoe hy buite die hof deur die gemeenskap ondersteun word, maar steeds weier sy borgtog omdat sy bang is hy gaan met die klaer in die saak inmeng – selfs nadat hy ’n adres buite die dorp verskaf het en ’n werk gehad het wat hy kan begin as hy op borgtog vrygelaat sou word. In my opinie is dit nie genoeg rede om borgtog te weier nie,” het Visagie-Jantjies aan Gazette gesê.
Verder sê sy hulle beplan om stappe te doen oor hoe die saak hanteer word.
“Ons is tans besig om strategiese beplanning rakende verder stappe te doen.”
Daar is ook sprake van video-beeldmateriaal wat die voorval vasgevang het. Die video is op die kringtelevisiekameras van ’n restaurant in Robertson opgeneem.
“Wat in die video gewys word en wat deur die polisie gesê word, stem nie 100% ooreen nie. Ek ken die man vandat hy ’n baba is. Hy het ’n klein en sagte hart. Hy is ’n rustige mens. Die klaagster in die saak het ’n groot jaloesie teenoor hom. Sy het selfs vir hom gesê sy sal die saak terugtrek as hy belowe om met haar te trou. Sy wil hom net vir haarself hê,” verduidelik sy.


