Die nuwe Ashton-boogbrug wat in ’n kort tydjie ’n baken in die Langeberg-distrik geword het, het ’n prys vir die beste infrastruktuurprojek van meer as R100 miljoen gewen.
Die brug oor die Kogmanskloofrivier, wat verlede jaar voltooi en die eerste in sy soort in Suid-Afrika is, is op die 2022 Fulton-prysgeleentheid bekroon.
Dié pryse word deur Cement & Concrete South Africa aangebied. Die boogbrugprojek het ook lof vir innovasie en uitvinding in beton ontvang. Die beoordelaars was veral beïndruk deur die “unieke brug-ingenieurstegniek,” lui ’n verklaring.
Verlede jaar is berig dat die projek ses jaar geneem het om te voltooi en R133 miljoen gekos het. Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke het die projek gefinansier.
Wat die brug uniek maak, is dat dit langs sy uiteindelike lêplek gebou is, op rolgidse geplaas en 24 m sywaarts geskuif is tot waar dit by die R60-pad inskakel.
Die brug is in die verskuiwing met sterk kabels in posisie getrek, terwyl kragtige domkragte dit van die ander kant in plek gehou het. Die brug is op vier rolgidse geplaas om dit op koers te hou.
Die firma Aecom was vir alle ingenieursaspekte – van die pad- en brugontwerp tot die projek- en konstruksiebestuur – verantwoordelik. Die hoofkontrakteur was Haw & Inglis Siviele Ingenieurswese.
Philip Ronné, ’n ingenieur en betonspesialis, sê die sukses van die brug is aan die goeie wisselwerking tussen brugingenieurswese en die keuse van konstruksiemateriaal te danke.
“Noukeurige aandag is gegee aan die keuse van materiaal en strukturele werkverrigting om die boubaarheid van die groter betonelemente te verseker. Doelwitte in terme van die omgewing, volhoubaarheid en herwinning is in gedagte gehou.
“In dié verband het die ou brug deel van die fondament van die nuwe brug geword,” sê hy.
Voorheen is berig die nuwe brug is aanvanklik gebou langs die ou brug, wat uit die 1930’s dateer, om probleme met verkeersvloei te voorkom.





