Bonnievale is onlangs aangewys as die Wes-Kaapse verteenwoordiger van Kwêla se Dorp van die Jaar, nadat dié prentjiemooi plaasdorpie die meeste stemme verwerf het.
In verlede week se Kwêla-episode het die televisieprogram by Bonnievale gaan inloer en talle van die dorp se unieke verhale, ryk geskiedenis en verskeie toeristeaantrekkings besoek.
Die kameraspan het heel eerste by die Mary Myrtle Riggs Gedenkkerk, wat in 1921 voltooi is en die eerste Anglikaanse diens in 1924 gehou het, gaan aanklop.
Volgens die Kwêla-uittreksel is die kerk deur Christopher Riggs gebou nadat sy dogter aan meningitis dood is, maar op haar sterfbed vir ’n kerk gevra het.
Die kerk is toe met ingevoerde vensters en teëls gebou, en die plafon is met rivierklip afgerond, wat dit enig in sy soort maak.
Die Kwela-span het ook by die Jakes Gerwel- tegniese skool gaan inloer, wat reeds ses jaar aan die gang is en gratis onderrig voorsien aan leerders wat nie opvoeding kan bekostig nie.
Die skool beskryf hom as ’n tegnies-, vaardigheids- en landbouskool wat leerders toerus om tersiêre studies in daardie rigtings na te streef.
Verder het die span by die Weltevrede-wynplaas, die Lactalis-kaasfabriek die Angora Stud-gasteplaas sowel as die Relish-koffiewinkel aangeklop.
Volgens plaaslike inwoners het Bonnievale en sy mense baie om te bied en wil graag bekendstaan as die “mooiste kleindorp in die Wes-Kaap”.
Die publiek kan van 18:00 op 16 Julie tot 12:00 op 21 Julie vir hul wendorp stem, waar dit dan op 30 Julie op Kwêla aangekondig sal word.. Stuur ’n SMS na 3157 (SMS’e kos R1,50) met die dorp wat jý graag wil hê moet wen.





