Vier plaaslike rugbyklubs is tydelik geskors nadat voorvalle van rassisme en geweld by onlangse wedstryde aan die lig gekom het.

Die Boland-rugbyunie het die skorsings Woensdag (10 Augustus) aangekondig.

Volgens Bennie van Rooi, president van die Boland-rugbyunie, is die rugbyklubs Porterville, Abbotsdale, Good Hope en Darling voorlopig geskors.

“Die Boland-rugbyunie sal dus nie huiwer om streng en ferm teen die skuldiges op te tree nie. Ons reputasie is op die spel. Die voorvalle kom op ’n kritieke tydstip van die Boland-rugbyunie se herboustrategie, wat juis daarop gemik is om die beeld van die unie in ere te herstel, asook om die nodige hulpbronne te bekom,” het Van Rooi gesê.

Die Boland-rugbyunie het ook bevestig dat verskeie verslae ingedien is oor die onderskeie voorvalle tydens klubrugbywedstryde.

Volgens Van Rooi veroordeel die BRU ten sterkste verskeie voorvalle van geweld sowel as voorvalle van rassisme tydens klubrugbywedstryde, wat die beeld van rugby en die unie ernstige skade berokken.

“Rassisme, toeskouers wat onder mekaar baklei, toeskouers wat die speelveld betree om met spelers te baklei, en skeidsregters wat laat opdaag of nie vir wedstryde opdaag nie, is van die klagtes wat ons ondersoek,” sê van Rooi.

“Dit is betreurenswaardig dat ons tans sulke wangedrag en ander voorvalle by klubrugbywedstryde moet ervaar. Ons kom pas uit ’n tweejaartydperk sonder rugby weens die Covid-19-pandemie, en om sulke gedrag te sien opvlam, is teleurstellend,” meen hy.

Van Rooi sê die betrokke verslae geniet tans dringende aandag en word deur die tugkomitee, uitvoerende bestuur en skeidsregtersvereniging hanteer.

“Die Boland-rugbyunie is daartoe verbind om saam met alle geaffilieerde klubs verdere vordering te maak en planne op te stel sodat ons rugbyvelde ’n omgewing kan wees waar alle rolspelers veilig kan voel en die sport – rugby – ten volle kan geniet,” sê van Rooi.

Twee rugbyondersteuners het hul onlangse ervaring by die klubrugbywedstryde met Gazette gedeel op voorwaarde dat hul name nie genoem sal word nie.

’n Ondersteuner van Lilies (Abbotsdale) het vertel dat hy sy meisie en kind teen glasbottels moes beskerm toe ondersteuners met mekaar haaks geraak het. “Dit was rof; ek het nooit besef dinge sou so woes kon uitdraai nie; ek het net gefokus om hulle veilig te hou en probeer wegkom.

“Rugby is ’n kontaksport, maar dit beteken nie ’n mens moet soos diere aangaan en mekaar seermaak nie,” het hy gesê.

’n Good Hope-ondersteuner sê hy moes terugbaklei om homself te beskerm toe hy by ’n onlangse wedstryd met ’n skerp voorwerp getref is. “Ek weet nie of dit ’n spanner of ’n hamer was nie, maar wat kon ek doen? Om myself weg te kry, moes ek terugbaklei.” . Linston Manuels, die skeidsregterbestuurder van die Boland-rugbyunie, het Vrydag in ’n persverklaring gesê die tweede- en derdespanskeidsregters van alle klubs asook Boland-rugbyunie-skeidsregters van die Swartland-streek sal môreaand (Woensdag 17 Augustus) om 19:00 by die Schoonspruit Sekondêre Skool vergader om oor die voorvalle te praat. Die publiek is welkom om dit by te woon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article