Die Boland-rugbyunie se tugkomitee het tot ’n besluit gekom rakende die onlangse tydelike skorsing van drie van die vier rugbyklubs.

Good Hopes-rugbyklub sowel as Porterville-rugbyklub is boetes van onderskeidelik R10 000, waarvan R5 000 opgeskort is, en R24 000 (drie klagtes van R8 000 elk) opgelê nadat hulle skuldig bevind is op aanklagte van gewelddadige gedrag by onlangse klubwedstryde.

“Die Porterville-rugbyvoetbalklub word ook uit alle rugbyaktiwiteite geskors. Dit is opgeskort vir twee jaar,” het Quintin van Rooyen, hoofuitvoerendebeampte van BRU verduidelik. Die klub is vir drie ligawedstryde geskors.

“Die klub kan hul ligaverpligtinge Saterdag (3 September) hervat. ’n Amptelike skriftelike waarskuwing is aan die klub uitgereik,” het van Rooyen bygevoeg.

Porterville het intussen appèl teen sy stewige boete en skorsing aangeteken.

Van Rooyen het vroeër in ’n verklaring gesê die klubs het die reg om teen die sanksie te appelleer.

Die Darling-rugbyklub is intussen onskuldig bevind op die aanklagte teen hom en het Saterdag reeds sy ligaverpligtinge hervat toe hy teen Wesbank te staan gekom het.

Abbotsdale bly steeds geskors hangende nog ’n tugverhoor wat Dinsdag 6 September sal plaasvind na aanleiding van nuwe inligting wat van getuies ontvang is.

Bennie van Rooi, die president van die Boland-rugbyunie, het ’n beroep op die klubs, spelers en toeskouers gedoen om die reëls op en weg van die veld af te gehoorsaam. “As daar gehoorsaamheid is, sal die sportvelde ’n veiliger plek wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article