WELLINGTON – Die Boland-Kavaliers het Saterdag (24 Junie) die rugbygeskiedenisboeke herskryf toe hy die eerste keer in byna 12 jaar weer die Curriebeker-reeks se eersteligatrofee gewen het.
Die laaste keer dat die Bolanders dié kroon gedra het, was in 2011 toe hy die Oostelike Provinsie Kings in Oktober van daardie jaar 42-12 verslaan het.
Die Kavaliers het die Curriebeker-reeks se 2023-eersteligakampioenskap Saterdag gewen toe hy die Valke, die huidige Mzansi-uitdaagkampioen, op die Boland-rugbystadion in Wellington met 43-21 die nek omgedraai het.
Die tuisspan was van meet af aan vurig op die aanval. Die Valke het hul hande vol gehad wanneer die Kavaliers se agterlyn met die bal gehardloop het.
Die Kavaliers se vlugvoetige heelagter, Cameron Hufke, het die besoekers egter hoofbrekens besorg. Hy was so glibberig soos ’n paling op die aanval en het ’n skitterende drieë-driekuns behaal.
Die Valke se verdediging agterlangs was gebrekkig en hul skrums was deurentyd onder druk.
Naby die Bolanders se doellyn was die besoekers se voorspelers met hul stormlope egter baie gevaarlik. Die Valke het hul tweede drie behaal net nadat die tuisspan se Keenan Opperman met ’n geelkaart van die veld gestuur is.
Toe die spanne halftyd ná ’n klipharde eerste helfte gaan asem skep het, was die Kavaliers redelik goed op koers met die telling 28-14 in sy guns.
Hoewel die Valke by tye sterk aangeval het, het die Kavaliers hulle goed in toom gehou.
Daarby het Darian Hock (losskakel) met ’n strafdoel hier en daar die telbord vir die Kavaliers aan die rol gehou.
Die einste Hufke, wat ’n bakgat wedstryd gehad het, het self ’n langafstand-strafdoel netjies tussen die pale deur oorgestuur.
Die Kavaliers se puntetelling het aanhou groei, maar die besoekers s’n ook.
Die uurglas het uiteindelik vir die kuiergaste leeggeloop en die eindfluitjie het geblaas met die telling 43-21 in die Kavaliers se guns.
Vir die seëvierende Kavaliers het Hufke (3), Keenan Opperman en Bentley Geldenhuys die drieë ingeryg. Darian Hock het drie doelskoppe en drie strafdoele oorgeklits, terwyl Hufke ook met ’n strafdoel geslaag het.
Musa Tshabalala, Easton Arendse en Cohen Kiewit het die Valke se drieë aangeteken en Keagan Fortune het almal verdoel.
Met hierdie merkwaardige prestasie meer as ’n dekade ná sy vorige suksesvolle veldtog in 2011, is die Kavaliers weer as die Curriebeker-reeks se eersteligakampioen gekroon – dié keer vir 2023 – die eerste keer in die 12 jaar sedertdien.





