Die afsterwe van die geliefde Willem Erwee is ‘n groot slag vir die leerders en personeel van die Hoër Jongenskool Paarl (HJS).
Erwee was tot sy dood aan die stuur van die bemarkingspan by dié skool. HJS het die hartseer nuus op sy Facebook-blad bekendgemaak nadat Erwee Vrydag 20 Junie oorlede is.
“Deur sy stil leierskap en standvastige karakter het hy vir ons – sy familie, kollegas, studente en die breër gemeenskap – gewys wat dit werklik beteken om ‘n betekenisvolle lewe te lei,” lui die skool se verklaring.
“Vandag betreur ons die verlies van ‘n buitengewone opvoeder, mentor en vriend. Tog – selfs in ons hartseer – eer en vier ons ‘n lewe wat ‘n blywende indruk op ons almal gelaat het. Hoewel ons harte swaar is, bly ons innig dankbaar vir die tyd wat ons met mnr. Erwee gedeel het. Sy waardes, sy visie en sy vrygewige gees is in die weefsel van HJS ingeweef en sy nalaten- skap sal ons bly inspireer.”
Medelye het onmiddellik ingestroom toe die nuus van sy dood bekend gemaak is.
“Wat ‘n ongelooflike skok! Ek het ‘n week terug nog met Willem gesels. [Hy was] ‘n absolute Boishaai-gentleman,” lui ‘n inskrywing.
“Dit is verskriklike slegte nuus. Willem was ‘n ongelooflike positiewe en hardwerkende mens en ons het altyd lekker saamgewerk. [Hy was] ‘n trotse Boishaaier. Baie sterkte aan die familie, die skool en die hele Paarl-gemeenskap,” skryf nog iemand.
Jacques Grobbelaar, ‘n kollega en goeie vriend van Erwee, sê as hy Willem en sy gesin in drie woorde sou moes opsom, sou dit “liefde, vriendskap en ‘n diep gelowige gesin” wees.
“Willem laat sy geliefde vrou, Santjie, agter. Hulle is op 2 Mei 1992 in die huwelik bevestig.”
Hy word ook deur hul seun, Rossouw (matriekklas van 2019 aan die HJS), en skoondogter, Annalet, oorleef.
Grobbelaar vertel Erwee was een van vyf kinders – drie seuns en twee dogters.
“Hy het in die Paarl in ‘n pastorie grootgeword. Sy skoolloopbaan het by die Laerskool Drakenstein begin en hy het sy hoërskoolloopbaan aan die HJS in 1982 voltooi – net soos albei sy broers. Ná skool het hy vir twee jaar diensplig verrig voordat hy ‘n BCom-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het. Hy het later ook sy BEd-graad daar verwerf.
“Willem het vir baie jare by Sanlam gewerk voordat hy by Radio Tygerberg aangesluit het, en was ook ‘n aanbieder vir KykNET se Die Groot Ontbyt-program. Hy het hom in 2018 by HJS as hoof van bemarking aangesluit, waar hy met groot passie en toewyding diens gelewer het.”
Volgens Grobbelaar het Erwee die afgelope jaar en ‘n half met hartprobleme gesukkel. Kanker van die pankreas is sowat ‘n maand gelede by hom gediagnoseer. “Hy is Vrydagoggend weens hartkomplikasies oorlede.”
• Erwee se lewe is Donderdag 26 Junie by HJS se skoolsaal gevier.





