Boeretroos, koffiekapitaal, “what is life before coffee”-houdings, en “kom ons jaag hom sommer deur die vlak” (die manier waarop ouer mans voorheen warm koffie in hul pierings afgekoel het) – almal van ons het met ’n sekere koffiekultuur grootgeraak.
Geleidelik het die meeste van ons geleer tydjies van saam koffie drink, beteken meestal vreugde en gemeensaamheid.
My eie ma het ’n vredige ritueel gehad wanneer sy rou koffiebone in ons agterplaas gerooster het. “Dink net hoeveel geure is destyds op hierdie manier doodgebrand,” ril moderne koffiekenners deesdae hieroor.
Ek was ’n student toe blikkoffie my lewe begin opkikker het, want ná jare van verpligte handearbeid wanneer my ma wou hê ek moet bruinswart koffiebone langs ons kombuistafel fyn maal, het ek Frisco, Ricoffy en Koffiehuis met ope arms omhels. Toe ons later jare besef dat koffie uit glasflesse darem mooier op ons rakke lyk en minder blikkerig smaak, het Nescafe, Jacobs en Douw Egberts ons kombuise binnegewals.
Intussen is ons dae van “moerby”-koffie finaal verby – tye toe kookwater bo-oor enige soort koffiepoeier goed genoeg was. Eintlik was dit ongekompliseerde tye toe enige koffie met kookwater oor ons moed kon gee vir ’n volgende groot taak of as troos sou dien – en natuurlik as katalisator om saamkuiers te laat vlot.
Deesdae beleef ons ’n koffiekultuur van baristas, koffiemeultjies, koffie perkoleer en bialetti’s, nespresso-masjiene en wonderlike variasies om van te kies, sowel as verleidelike koffie-geure wat ’n mens nader lok en laat kwyl.
Saam met die koffie-rewolusie is hope nuwe werkgeleenthede reg oor die wêreld geskep en is die oudae se koffiewinkeltjies met rooi geruite tafeldoeke en plastiekblomme en kitsch blompotjies uiteindelik verby.
Al meer mense verkies deesdae koffie-ervarings binne moderne ruimtes met swymelname soos Cult Coffee, Homebru Coffee Shop, Urban Grind Coffee Company en Father Coffee. Veganistiese koffie, ’n ordinêre Americano of dalk Naked Coffee? Andersins sal Mandela Coffee of koffies uit Burundi, Colombië of Noord-Afrika jou kan bekoor.
Terwyl die nuwe koffiekultuur gekom het om te bly, is ons mensdom immer op soek na nuwe variasies op ’n tema. Daarom lees ons nou van sampioenkoffie – koffiekombinasies met keurige sampioenpoeiers wat beloof om goeie geheue en helderheid van verstand te bevorder. Verpak in pikante sakkies met ’n sampioen- en koffiemengsel is dit wêrelde verwyder van ons voorvaders wat 120 jaar gelede karige koffievoorrade aangevul het met fyngekapte, geskroeide boomwortels, al het die smaak dikwels hul mondhoeke laat skeeftrek.
Lus om jouself te bederf? Soek dan sekere cappucino’s in Doebai, versier met goudvlokkies van 23 karaat. Of loer na die heel duurste, mees eksklusiewe koffie moontlik – Kopi Luwak. Hier gaan dit nie oor die tipe boon nie, maar oor die eksklusiewe vervaardigingsproses voordat dit as koffiekapitaal in jou koppie beland – die belangrikste eienskap van Kopi Luwak is dat die bone eers ’n roete deur die sivet-kat se spysverteringskanaal volg voordat bloukraagwerkers die uitgeskeide bone optel, dit ordentlik skoon was en kenners dit keurig rooster en fyn maal. Hierdie herwinde koffiebone word as die duurste koffie op aarde verkoop.
Kopi Luwak word ook bemark as Civet Coffee, Poop Coffee, Cat-poo-cino of Bali Coffee, want sivet-katte woon meestal in Afrika en Asië. Mense wat al hierdie koffie kon proe, vertel my dit slaag nie regtig die tong-tippie-toets nie!
Moet ek ’n rykjan of koffiekundige wees om lekker koffie te kan drink? Ek vermoed daar lê groot waarde daarin om tevrede en dankbaar te wees vir elke oggend se aftreksel van bone, kookwater en warm melk, al kos dit ’n fraksie van kat-poo-koffie.




