Pasmaats kan nou inskryf vir ‘boer Hennie’ van Moorreesburg. Foto: kykNET/Boer soek ’n Vrou


Moorreesburgers sal ’n bekende gesig onder vanjaar se top-10 boere van die werklikheidsprogram Boer soek ’n vrou herken.

Die 15de reeks se boere is pas aan kykers van dié gewilde reeks bekendgestel.

Boer Hennie (35) van Moorreesburg is een van die deelnemers vir wie pasmaats nou kan inskryf.

Dié gebore Moorreesburger het aan die Hoërskool Dirkie Uys matrikuleer, waarna hy sy BCom-graad in beleggingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het.

Hy het kort daarna sy MSc in finansiële bestuur deur die sakeskool Edinburgh Business School verwerf.

“Ek is ná my studies oorsee en het later teruggekeer Suid-Afrika toe, waar ek besluit het om as finansiële beplanner te begin werk,” sê hy.

Boer Hennie is al nege jaar in die bedryf vir finansiële beplanning, maar is nie net ’n makelaar nie – deesdae boer hy ook op die familieplaas met graan en merino’s.

“My pa is nog in beheer van die boerdery en ek is bevoorreg om by hom te kan leer. In hierdie stadium is ek meestal op kantoor, maar wanneer dit seisoentyd op die plaas is, is ek voltyds betrokke,” sê Hennie, die jongste van vier seuns.

Oor sy besluit om vir dié maatsoekreeks in te skryf, sê hy: “Ek voel die program skep ’n goeie geleentheid om my vrou te ontmoet en dis altyd goed om buite jou comfort zone te beweeg.”

Hy beskryf homself as iemand wat gemaklik inskakel tussen nuwe mense, maar ook van sy “alleentyd” hou.

“Ek sien myself as ’n lojale, eerlike en dinamiese mens en hou daarvan om in die natuur rond te beweeg asook om nuwe avonture aan te pak,” vertel hy.

Hy is op soek na ’n vrou wat spontaan is en gemaklik met die plaaslewe sal wees.

“Sy moet ’n sagte hart hê en moet van die eenvoudige dinge in die lewe hou. Sy moet doelgerig wees met drome van haar eie.”

In sy vrye tyd geniet hy dit om gholf te speel, te draf en saam met vriende te braai. Sy gunstelingkleure is blou en groen omdat dit hom aan water en plante herinner.. Diegene wat vir een van die top-tien boere ’n brief wil skryf, moet ouer as 21 wees en ongetroud, geskei of ’n weduwee/wewenaar wees. Inskrywings moet voor middernag op 28 Julie ingedien word.

Mense wat die boere beter wil leer ken, kan dit op een van die volgende maniere doen: . Skryf in op kykNET se webtuiste by www.kyknet.tv,. bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229, of. stuur e-pos na boer@wolflightsa.com.

Digitale inskrywings, wat ook deur ’n video vergesel kan word, is welkom.

Voornemende pasmaats sal ook briewe of pakkies per koerier vir die boere kan stuur by een van dié twee adresse: . Boer soek ’n vrou, Postnet 211, Private sak X15, Somerset-Wes, 7129; of . Coronationlaan 11, Somerset-Wes, 7130.

Derde reeks

Marciel Hopkins bied Boer soek ’n vrou die derde keer aan, en dié maatsoekreeks sal van Januarie 2023 op kykNET uitgesaai word.

Kykers sal dan die boere se liefdesreis kan volg en oudergewoonte sal die reeks, wat uit 13 episodes bestaan, op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het, fokus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article