’n Boer van Montagu is Sondag (22 Januarie) tydens ’n plaasaanval raakgeskiet en gewond.
Volgens sers. Wesley Twigg, ’n woordvoerder vir die provinsiale polisie, het die voorval om 19:15 plaasgevind terwyl die huisgesin almal tuis was.
“Volgens verslae was die slagoffer en sy gesin tuis toe onbekende verdagtes die perseel binnegekom het. ’n Stryery tussen die slagoffer en die verdagtes het ontstaan en daartoe gelei dat hy ’n skietwond in die gesig opgedoen het,” verduidelik Twigg.
Verder, verduidelik hy, het die onbekende aanvallers van die toneel af gevlug en hulle moet nog in hegtenis geneem word.
Volgens ’n WhatsApp-boodskap wat Gazette ontvang het, het die verdagtes in ’n motor in die rigting van Swellendam en Barrydale gevlug.
Dit is egter nie deur die polisie bevestig nie.
’n Ander boodskap noem dat drie skote in die rigting van die boer afgevuur is en net een het hom skraps in die gesig getref.. Die polisie vra enigiemand met inligting oor die skietvoorval moet Crime Stop by 08600 10111 kontak.


