Shireen Crotz van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) praat tydens Ashbury Primêr se erkenningsaand. Sy het onder andere die belangrikheid van lees beklemtoon. Links staan Danfrey Booysen wat as programaankondiger tydens die geleentheid opgetree het. Foto: Norman Evertson


MONTAGU – Die Ashbury Primêre skool het sy baie suksesvolle boekefees, wat van 26 April tot 30 Mei geduur het, verlede Dinsdag met ’n erkenningsaand afgesluit.

Erkenning is gegee aan die leerders wat die beste tydens die skool se lees-en-skryfprojek gedurende die boekefees gevaar het.

Tydens dié saamtrek, wat weens ’n gebrek aan ’n skoolsaal in die buitelug gehou is, het van die leerders geleentheid gekry om met hul nuut aangeleerde lees- en skryfvaardighede te spog.

Die gehoor, bestaande uit hoofsaaklik verskriklik trotse ouers, vriende en leerkragte, het met breë glimlagte en groot genoegdoening aanskou hoe die onderskeie leerders van die grondslag- tot die senior fase hul deugde ten toon stel.

Brenda Strydom, ’n onderwyser en lid van Community of Practice (COP) – ’n groep leerkragte onder wie Anelma Johnson (hoof), Johanna Thompson, Laurentia Modiba en Arlin Davids, wat gemoeid was met die projek – verduidelik: “Die boekefees het met ’n boeke-karakterdag begin. Leerders is per graad in leesgroepe ingedeel. Elke Vrydag is ’n periode vir lees geskep.”

Die skool het nou ook ’n leesklub en die leesperiode van Vrydae gaan steeds voort, al het die boekefees tot ’n einde gekom, het Strydom gesê.

Sy het verder verduidelik: “Die doel van die leesklub is onder meer om leerders aan te moedig om by die plaaslike biblioteek aan te sluit. Tydens die boekefees is leerders ook aangemoedig om boeke te lees en resensies daaroor te skryf. Verder is hulle aangemoedig om hul eie gedigte en stories te skryf. Hierin het veral juffrou Marinke Freeman, wat self ’n begaafde skrywer is, ’n baie groot rol vervul.”

Die skoolhoof, Anelma Johnson, het ’n oorsig van die Leesprojek by die erkenningsaand gegee. Sy het onder meer gesê statistieke van die skool toon baie leerders sukkel met leesbegrip.

“Dit is een van die belangrikste vaardighede om suksesvol te leer. Die skool het planne in werking gestel soos die begin van ’n leesklub, noue skakeling met die plaaslike biblioteek en die opgradering van die skool se eie biblioteek. Daarby het die skool elke Vrydag ’n periode vir lees uitgesit,” het Johnson die aanwesiges ingelig.

Verder bied die skool ook ondersteuning aan leer-ondersteuner-opvoeders om liefde vir lees aan te kweek, het sy gesê.

Die gasspreker by die geleentheid was Shireen Crotz van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV).

Crotz het onder andere die belangrikheid van lees beklemtoon.

“[Dit is nie net belangrik] vir leerders wat verder wil studeer nie, maar ook entrepreneurs en leerders wat hul eie ondernemings wil begin. Ouerbetrokkenheid is belangrik om leerders ook tuis aan te moedig om te lees. Die skool het deur die Boekefees ook die geleentheid vir die leerders geskep om hul skryftalent te deel,” het Crotz gesê.

Freeman, een van die skool se personeellede, het by dieselfde geleentheid haar nuutste boek, Naamloos, bekendgestel. Sy het ’n kopie van haar boek aan ’n gr. 9-leerder, Khia Witbooi, wie se storie haar (Freeman) baie aangegryp het, oorhandig.

Daarna het Johnson en Crotz pryse in die onderskeie afdelings – beste boekresensies, beste gedigte en beste kort storie/kortverhaal – oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article