“Once upon a time in the Kingdom of Sheeple . . .” Dit is die openingswoorde tot die gewilde musiekblyspel Imagination, wat vanjaar deur die Hoërskool Swartland (HSS) aangebied word.
Dit is ook die sewende musiekblyspel op HSS se verhoog en beloof om die gehoor se verbeelding behoorlik aan te gryp en hulle mee te voer op ’n ontdekkingsreis van liefde en kreatiwiteit.
Myrtle Kreuiter, ’n onderwyseres by HSS, skryf die teksgedeelte sedert die produksie se bestaan in sy huidige formaat as musiekblyspel. Die produksie vind elke tweede jaar plaas.
Kreuiter brei uit oor die proses agter die skerms wat begin met leerders wat vir oudisies kom en sangers wat na vore tree, voordat aan ’n storielyn gewerk kan word. Anne-Marie van Staden sien op haar beurt om dat die klankbaan reg is en alle leerders nootvas sing.
“Ek kan nie sonder haar nie. Sy is die musiekdeel van die musiekblyspel,” sê Kreuiter.
Musiekteater oorvleuel sedert die 19de eeu met ander teatervorme, soos dans en toneelspel. Hier het Alexa le Roux ingetree, wat verantwoordelik is vir die dansafrigting, terwyl Elmien de Clerk met die toneelspel help.
Die skool het reeds verlede jaar met oudisies en oefening begin, gegewe die unieke produksie wat baie fyn koördinasie behels en kostuums en dekor insluit wat asems sal wegslaan.
“Die kostuums vorm deel van vanjaar se dekor, terwyl die verhaal in ’n towerwoud afspeel,” verklap Kreuiter.
Hoewel baie toerusting gehuur word, help talle ouers ook met die produksie van ’n uur en 30 minute lank.
Hoewel hoofsaaklik leerders van tussen gr. 9 en gr. 12 deelneem, sluit die produksie vanjaar twee gr. 8-leerders in wat vir ’n rol gevra het.
Kreuiter verklap so ’n bietjie van die storielyn wat in Engels vertolk word en vertel dat King Merino (JP Truter) se vrou hom vir Padda Prins verlaat het. Daarna was die koning gekant teen alle liefde, verbeelding, kreatiwiteit en stories.
“Hy het alles daaroor uit sy koninkryk verban. Die koning van die Elfies (Devlinn Visser) besluit toe om in te tree. King Merino se dogter, Miss Mutton (Nina Truter), is boonop verlief op Minister Dorper (De Wet Visser). Sy het natuurlik ook gevoel dat iets aan haar pa se verbeeldinglose houding gedoen moet word. Daarna begin die koning verskillende nagmerries kry en word in sy slaap deur onder meer die dwergies en Sneeuwitjie (Jordan Joubert), die bose koningin (Grace-Anne Laubscher), die stiefma van Aspoestertjie (Karla Kotze), Aspoestertjie self (Isabel du Bruyn) en verskeie ander karakters uit feëverhale besoek om hom van plan te laat verander.”
Ander hoofrolspelers sluit onder andere Nadia van Eeden in, wat die rol van Queen Imaginata vertolk, terwyl Ninke-Maré Knoetzen die storie gaan vertel. Die hele produksiespan bestaan uit 36 leerders van wie ses agter die skerms as die verhoogspan gaan optree.
Volgens Kreuiter is baie druk op die talentvolle JP Truter (gr. 12) wat die hoofrol vertolk, omdat hy baie woorde het om te onthou.
Kreuiter het baie sangtalent deur vanjaar se produksie ontgin. Sy sê ook die danse is iets om te kom aanskou.
. Imagination sal van 23 tot 26 April by HSS te sien wees. Kaartjies is reeds by die skool se kantoor te koop.
Kaartjies kos R80 vir leerders, R150 vir volwassenes en R280 vir die Gala-aand, wat op 26 April plaasvind. Die Gala-aand sluit ’n ete en wyn in.





