Inwoners oor die hele Swartland het die afgelope Sondag ’n onverwagse en ongewone hoeveelheid reën ontvang. Gure weer het gelei tot swaar reënbuie, donderweer, weerlig en oorstromings, wat plek-plek in die streek voorgekom het.
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het reeds Saterdag omstreeks 11:00 ’n vlak-5-waarskuwing uitgestuur oor ’n ernstige donderstorm wat die Swartland en omliggende streke na verwagting sou tref.
Volgens die Swartland-munisipaliteit het ’n onverwagse wolkbreuk oor groot dele van die Swartland veroorsaak dat baie reën in ’n ongewone kort tyd uitgesak het. “Verskeie strate het oorstroom en oorstromings is by die De Bron-winkelsentrum in Malmesbury aangemeld,” verduidelik Joggie Scholtz, die munisipale bestuurder van die Swartland-munisipaliteit.
Foto’s en videogrepe het laat Sondagaand op sosiale media die ronde gedoen van voertuie wat in ’n oorstroomde Voortrekkerweg langs Absa se tak verbybeweeg. Grondpaaie in die omgewing het volgens plaaslike boere ’n knou gekry namate strome water deur landerye gevloei het.
Volgens Scholtz is hulle bewus van ’n voorval in Alfa -en Myrtlelaan waar ’n sloot, wat deur ’n kontrakteur opgevul is, oopgespoel het en ’n motor daarin beland het. ’n Grensmuur by ’n sakeonderneming in die nywerheidsgebied het ook meegegee.
Skoonmaakwerk het vroeg Maandagoggend begin. “Die munisipaliteit sal hulp verleen waar nodig en volgens ons beleid toepas,” voeg Scholtz by.
Hulle hoofprioriteit is om die opdrifsels in die stormwaterstelsel skoon te maak om enige verdere oorstromings te voorkom. Scholtz verduidelik verder dat die stormwaterstelsel nie ontwerp is om so baie water in so ’n kort tyd te hanteer nie. “Daarom het van die laagliggende strate oorstroom. Dit is egter ’n uiters ongewone situasie.”
Volgens ’n plaaslike boer van Koringberg, Willem Pretorius, het hulle teen 18:00 reeds 30 mm reën gehad, terwyl ander se reënmeters tot 50 mm reënval in die omgewing van Malmesbury gemeet het.
Geen beserings is aangemeld nie.




