ROBERTSON – Die Blue Birds-rugbyklub van Bonnievale het Saterdag (15 Oktober) sy promosie/relegasie-wedstryd teen Perseverance van Worcester gewen en daarmee verseker dat hy in 2023 in die Boland rugbyunie se Grootuitdaagbekerkompetisie meeding.
Blue Birds het dié wedstryd op die Van Zylstraat-sportterrein 30-13 gewen.
Persies, soos die Worcesterse span algemeen bekendstaan, het Blue Birds aan die begin van die wedstryd onder groot druk geplaas. Hy het die Bonnievalers vir ’n goeie klompie minute tussen sy eie 10-meterlyn en doellyn vasgepen.
Blue Birds het egter goed verdedig en Persies het op daardie tydstip geen deurkomkans gekry nie. In sy desperaatheid om punte op die telbord te kry, het Persies nie minder nie as drie skepdoelpogings pale toe gesool, maar elke keer die teiken gemis.
Blue Birds het die aanvanklike druk van Persies goed absorbeer en minute later sy verdediging in aanval omgeskep en sy haastige linkervleuel met die bal weggestuur. Dié het, nadat hy ’n paar meter gehardloop het, die bal vorentoe geskop en sekondes later agter die doellyn toegeval om ’n pragdrie af te rond.
Die doelskop was oor en Blue Birds het die voortou geneem met die telling 7-0.
Ongeveer tien minute later het Blue Birds weer agter Persies se doellyn gaan kuier en sy tweede verdoelde drie aangeteken en die gaping tussen hom en Persies het verder vergroot met die telling wat tot 14-0 gegroei het.
Dinge wou egter nie vlot vir Persies, wat by tye goed rekenskap van homself gegee het, nie en sowat vyf minute later het hy boonop sy heelagter weens ontoelaatbare spel vir tien minute verloor toe hy met ’n geelkaart gestraf is.
Blue Birds het die strafskop wat hieruit gespruit het, pale toe geskop, maar dit was regs verby.
Blue Birds het later ’n lynstaanbal gewen en ’n dryfmaalbeweging aan die gang gesit, waarin hy baie oorheersend was en as’t ware met Persies se pak voorspelers gedrafstap het.
Persies was genoodsaak om die kragtige dryfmaalbewegings van Blue Birds op ’n “onwettige” manier te stuit deur dit grond toe te laat val, en is daarvoor gestraf.
Blue Birds se losskakel het aangelê pale toe en die strafdoel tussen die pale deur geskop om sy span verder te laat voorloop met die telling wat na 17-0 aangeskuif het.
Persies het besef as hy nog ’n sê in die belangrike wedstryd wil hê, sal hy sy sokkies vinnig moet optrek en het kort daarna die daad by die woord gevoeg.
Minute later het hy Blue Birds se doellyn in die linkerhoek oorgesteek om sy eerste drie te druk. Die doelskop was egter mis, maar die swart truie het nou begin terugbaklei met die telling 17-5 en Blue Birds steeds voor.
Ná die drie was Persies sommer weer gou op die aanval, maar Blue Birds het goed verdedig. Met die spel in Blue Birds se kwartgebied, het sy skrumskakel vasgetrap en weer ’n skepskop pale toe gemik. Hierdie keer het die bal tussen die pale deurgetrek en Persies het nader gekruip met die telling wat 17-8 geword het.
Blue Birds het uit sy ligte middagslapie wakker geskrik en gesien Persies is besig om stilweg nader te sluip.
Net voor rustyd ruk hy toe die wind uit die Worcester-span se seile met ’n onverdoelde drie en vergroot sy voorsprong na 22-8.
Toe die spanne ná rustyd terugkom op die veld, het Blue Birds sy greep op die wedstryd verstewig met nog ’n onverdoelde drie en ’n strafdoel om die telling na 30-8 te neem, wat die wedstryd as’t ware buite bereik van Persies geplaas het.
Persies het gespartel om uit die Blue Birds se kloue te kom, en hoewel hy daarin geslaag het om nog ’n onverdoelde drie aan te teken om die telling 30-13 te maak, kon hy nooit uit die Birds se sterk kloue ontsnap nie.
Die uurglas het gevolglik leeggeloop en die Blue Birds-spelers en ondersteuners het hul toetrede tot die Grootuitdaagbeker uitbundig gevier nadat die eindfluitjie geblaas het.





