BONNIEVALE – Die Blue Birds-rugbyspan van Bonnievale, wat as ’n nuweling in die Grootuitdaagbeker-afdeling beskou word nadat hy vanjaar na dié kompetisie bevorder is, het vriend en vyand Saterdag (20 Mei) verras toe hy met sy meer gevestigde teenstander in die kompetisie, Worcester Villagers, afgereken het.
Blue Birds het Villa, soos die Worcester-span ook genoem word, op die Happy Valley-sportterrein met 41-33 ore aangesit.
Blue Birds was sommer van die afskop af op die aanval en het die besoekers onder groot druk geplaas.
Trouens, die tuisspan was binne die eerste drie minute oor Villa se doellyn, maar die skeidsregter, Rudiaan Louw, het hom weens ’n vermoedelike hanteerfout teruggeroep.
Nietemin was die telling binne die eerste tien minute 10-0 nadat die tuisspan eers ’n strafdoel deur die pale gejaag en daarna ’n verdoelde drie gedruk het.
Villa het onmiddellik met ’n aanslag gekom en by twee geleenthede byna gedruk. In die eerste geval het Louw (skeidsregter) beslis die speler het die bal verloor toe hy dit met die een hand agter die doellyn probeer plaas het.
By die tweede geleentheid het ’n Villa-speler die bal – ná ’n goeie skrum deur die besoekers – agter die doellyn toegeval, maar die skeidsregter het aangedui die bal is aangeslaan.
Met die uitsondering van een of twee skrums laat in die tweede helfte, het Villa origens die oorhand in die skrums gehad.
Die tuisspan het hierna die druk deur die besoekers goed verwerk en die spel tot in die besoekers se gebied verplaas deur die bal vinnig en rats te versprei.
Blue Birds het sy voorsprong in die agttiende minuut vergroot met nog ’n verdoelde drie, wat die telling 17-0 gemaak het.
Villa het met ’n strafdoel geantwoord, maar kort daarna is hy vir ’n skrumoortreding gestraf en Blue Birds het die telling met ’n strafdoel na 20-3 laat aanskuif.
Net hierna het die tuisspan se nommer 4-slot egter ’n geelkaart ontvang en Blue Birds moes vir tien minute met veertien spelers oor die weg kom.
Die besoekers het met mening teruggeveg en minute later twee verdoelde drieë behaal, wat hom met die telling 20-17 binne bereik van die tuisspan gebring het.
Net voor rustyd het die tuisspan egter weer sy voorsprong gerek ná nog ’n suksesvolle strafdoel en ’n onverdoelde drie, wat die telling met waterdrinktyd na 28-17 geneem het.
Ná die omdraaislag het die twee spanne om die beurt – eers Villa, daarna Blue Birds en toe weer Villa – strafdoele aangeteken om die telling 31-23 te maak.
In die 60ste minuut het Villa, wat deurentyd inhaal-rugby moes speel, mooi terug in die wedstryd gekom en sy agterstand tot ’n enkele punt verklein nadat hy sy derde verdoelde drie behaal het.
Die telling het gegroei na 31-30 met die tuisspan steeds ’n kortkop voor.
Die tuisspan se vlugvoetige agterlyn het die besoekers egter hoofbrekens besorg.
Die plaasvervanger-linkervleuel het kort hierna sy span se bonuspunt drie, wat ook verdoel is, gaan druk en die telling het tot 38-30 aangeskuif.
Villa het hierna nog ’n strafdoel deur die pale gejaag, en hoewel hy aangehou het terugveg, het die uurglas vir hom leeggeloop.
Blue Birds het boonop die sege oor sy veel geroemde teenstander uiteindelik met ’n netjiese skepdoel verseël, wat die eindtelling op 41-33 te staan gebring het.





