Lleyton Davids, die blitsige linkervleuel van Blue Birds, rank hoog na die bal, terwyl David Wagenaar, die binnesenter van Ashton, toekyk. Davids was ongetwyfeld die grootste doring in die besoekers se vlees. Hy het altesaam 16 punte – vier strafdoele en twee doelskoppe – met sy giftige skopskoen aangeteken. Foto: Norman Evertson


Die Blue Birds-rugbyspan van Bonnievale se kanse om vanjaar vir die Boland rugbyunie se Top-12-kompetisie te kwalifiseer, is ná die afgelope naweek se oorwinning nog springlewendig.

Blue Birds, wat tans derde op die Breë-Langeberg-punteleer is, het die besoekende Ashton United Saterdag (19 Augustus) op die Happy Valley-sportterrein in Bonnievale met 29-14 die loef afgesteek.

Ná ’n betreklik gelykop eerste helfte, waarin slegs strafdoele – vyf altesaam –aangeteken is, was Ashton teen rustyd met die telling 9-6 ’n kortkop voor.

Elton Mfundisi, die losskakel van Blue Birds, het sy span vroeg in die wedstryd met ’n strafdoel laat voorloop.

Ashton het egter met drie strafdoele ná mekaar deur David Wagenaar (binnesenter) teruggeslaan en die leisels oorgeneem.

Blue Birds se nr. 4-slot, Isak Opperman, is in die eerste helfte ná ’n gevaarlike hoogvat met ’n geelkaart vir tien minute van die veld af gestuur. Buiten ’n strafdoel kon Ashton nie behoorlik uit die 14-man-situasie van sy teenstaander munt slaan nie.

Die tuisspan se spoedvraat, Lleyton Davids (linkervleuel), het intussen met ’n langafstand-strafdoel geslaag en sy span se agterstand verklein. Sy suksesvolle poging het die telling op 9-6 te staan gebring.

Dit was ook die telling toe rustyd aangebreek het. Ashton was op daardie tydstip nog in die bestuurdersitplek.

Ná rustyd het die tuisspan egter met ’n verdoelde drie die voortou geneem en dit enduit behou. Dié drie het gekom nadat Blue Birds swak verdediging aan die kant van Ashton uitgebuit het.

Die tuisspan het vanaf ’n vaste skrum in sy kwartgebied aangeval. Nadat die bal vlugtig deur ’n paar hande is, het Steven Stallenberg (heelagter), die beweging met ’n pragdrie afgerond.

Davids, wie se skopvernuf ’n aansienlike rol in die besoekers se ondergang gespeel het, het met die doelskop geslaag.

Sy suksesvolle doelskop het die telling na 13-9 in Blue Birds se guns geneem.

Die lenige Davids is meer bekend vir sy spoed en bedrieglike lopies.

Ashton het hom dus met valkoë dopgehou en ook goed aan bande gelê, maar dié keer het hy hulle egter met sy netjiese korrelwerk pale toe laat les opsê.

Die besoekers het talle oortredings in die tweede helfte begaan, en telkens wanneer dit gebeur het, het Davids nie geskroom om hulle met sy geleerde skopvoet te straf nie.

Hy het met drie agtereenvolgende strafdoele – almal oor taamlike lang afstande – geslaag, wat die telling vinnig na 22-9 laat aanskuif het.

Davids het sy span op dié manier gehelp om gedurende die tweede helfte beheer van die wedstryd te neem.

Ashton was, afgesien van sy keerwerk, wat hom soms in die steek gelaat het, deurentyd mededingend, maar Blue Birds was duidelik die span wat hongerder was om die wedstryd te wen. Boonop het hulle ook puik verdedig.

Die skrif was egter in flikkerende rooi letters aan die muur vir die besoekers toe die tuisspan sy tweede verdoelde drie aangeteken en die telling tot ’n bykans onaanvegbare 29-9 gegroei het.

Met só ’n groot agterstand en min tyd oor het die besoekers ’n steil bult gehad om te klim.

Ten spyte van hul benarde situasie het die maroentruie egter aangehou terugveg en aanval op aanval van stapel gestuur.

Uiteindelik is hul vasberadenheid en deursettingsvermoë met ’n drie deur die heelagter, Wesley Abrahams, beloon.

Die doelskop was ’n twisappel, want die twee lynregters het verskil oor of die teiken getref is.

Ná Wagenaar se doelskoppoging het die een lynregter sy vlag omhoog gelig, terwyl die ander syne dwars geswaai het. Die skeidsregter het uiteindelik beslis die skop was mis.

Op die keper beskou, het Blue Birds die grootuitdaagbekerkragmeting aan die einde van die dag eintlik redelik maklik met 29-14 gewen.

Die grootste doring in die besoekers se vlees was vir seker Davids met sy giftige skopvoet. Hy het altesaam 16 punte – vier strafdoele en twee doelskoppe – aangeteken.

Vir Blue Birds, met 60 ligapunte tans op sy kerfstok en nog drie wedstryde om te speel, is die Top-12-uitspele gewis nog binne sy bereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article