’n Man van Ashton is verlig nadat ’n steen uit sy blaas verwyder is nadat hy vir jare lank elke keer net vir blaasinfeksie behandel was.
Jacquin Toorn (36) het drie jaar lank probleme met sy blaas gehad.
“Ek is drie jaar lank amper elke maand dokter toe weens my blaasprobleem. Die dokter het net altyd gesê dis infeksie en antibiotika voorgeskryf. Dit sou dan net ’n tydjie help,” verduidelik hy.
Maar, verduidelik hy, hierdie jaar het die ongemak aansienlik vererger.
“Vanjaar was dit baie erger. Ek moes later elke 30 minute toilet toe gaan om myself te verlig. Dit was baie pynvol. ’n Nuwe dokter het op die dorp kom werk en toe ek weer hulp vir die ‘infeksie’ gaan vra, het hy gesien ek kom gereeld en ’n blaasinfeksie is telkens diagnoseer. Hy het toe gereël dat ’n dokter by die Worcester-hospitaal my ondersoek. Daar is ek met ’n sonar ondersoek waar diedokter gesien het my niere is geswel en iets by my blaas het nie reg gelyk nie. Daarna is ek vir ’n skandering gestuur, waarna die dokter die steen in my blaas gesien het.”
Volgens www.nhs.uk vorm blaasstene gewoonlik wanneer jy nie jou blaas heeltemal kan leegmaak nie.
’n Algemene rede hiervoor by mans is ’n vergrote prostaatklier, wat die vloei van urine blokkeer. As urine vir ’n lang tyd in die blaas sit, vorm chemikalieë in die urine kristalle, wat verhard en blaasstene word.
Verder verduidelik Toorn die dokter het gesê hulle maak gewoonlik net ’n klein snytjie om klippies in die blaas te verwyder.
“Maar die oggend voor die operasie het die dokter my ’n foto van die steen kom wys. Ek het nogal geskrik, want die steen was so groot soos ’n kind se vuis. Hulle moes toe ’n keisersnit doen om hierdie groot steen uit my blaas te verwyder. So, ek het eintlik geboorte geskenk aan ’n blaassteen,” spot hy.
“Voordat hulle die steen verwyder het, was my prostaat ’n bietjie vergroot, maar ná die operasie is dit nou weer normaal.”
Toorn wil graag sy storie gebruik om ander mans aan te moedig om vir tweede opinies te gaan wanneer hulle sulke ongemak of soortgelyke ongemak en pyn ervaar.
“Mans is mos maar skaam en bang om met hierdie soort probleme dokter toe te gaan, maar dis baie belangriker om eerder na jou gesondheid om te sien,” meen hy.





