An Roets van Malmesbury kon vroeër vandeesmaand die boek waaraan sy maande lank gewerk het, in haar hande hou, dit voel, ruik, deurblaai en besef – dis presies hoe sy die boek wou gehad het.
Nadat Tannie An – oftewel die Bidbeertannie – in 2014 met hierdie bidbeerbediening begin het, staan sy verstom om te sien hoe die goeie boodskap saam met bidbere deur die land reis. Die term bidbeer spruit uit die beginsel dat breiers die hele tyd terwyl hulle ’n beer brei, bid vir wie ook al die beertjie sal ontvang.
In hierdie fotoboek, ’n Genade Dekade, vertel sy geselsend en humoristies hoe die bediening begin het. Al het sy jare lank geglo sy kan nie eintlik brei nie, het sy dié bere “in gehoorsaamheid aan die Here” begin brei.
Sy en haar man, Piet, het destyds in Riebeeckstad in die Vrystaat gewoon.
Foto-gewys vertel sy hoe vroulike en selfs manlike breiers deur die land heen begin vlamvat en saambrei het en vir watter soort uitreike en indiwidue hierdie bidbere in moeilike omstandighede hoop bring. Dit sluit siektes, sterftes, droogtes en Covid-19 in. In sommige skole ontvang alle graad-eentjies ’n bidbeer op die eerste skooldag en wanneer personeel van ’n kliniek, skool of kantoor uitdagings beleef en genoeg breiers span saam, word bidbere ook daar beskikbaar gestel.
Ná die Springbokrugbyspan se laaste twee Wêreldbekeroorwinnings het elke spanlid ’n bidbeer ontvang, en die staatspresident het ook drie jaar gelede op sy verjaardag in November ’n bidbeer in sy sitkamer gekry. Die manier waarop bonkige bidbere gratis na Ukraïne kon reis en oorlogverskrikte mense daar ondersteun, word ook vertel.
Tannie An sê die tegnologie en ouderdom was nogal groot uitdagings. Gedurende die skryftyd moes sy ’n nuwe rekenaar baasraak en ongelukkig ook vir Oom Piet aan die dood afstaan.
Hierdie blinkbladboek, ’n Genade Dekade, is pas versprei na getroue medebreiers oral in die land. Enkele boeke is nog by Malmesbury se wolwinkel in Pleinstraat beskikbaar.





