Sivenathi Sanywa (30), ’n algemene bestuurder by Chalala 2-varkboerdery buite Darling, stap vanjaar met die gesogte toekenning as die streek se landbouwerker van die jaar weg.
Die Swartland-streek het Donderdag (29 Augustus) sy wenners vir vanjaar se Agri Prestige-landbouprysuitdeling by ’n ontbytgeselligheid by Goedgedacht-plaas buite Malmesbury aangewys.
Die kompetisie het aanvanklik in 2002 in die Hexvallei deur Elsa Jordaan met slegs 36 inskrywings begin. Vandag neem 16 streke aan die kompetisie deel, wat nie net die beeld van landbouwerkers belig nie, maar ook erkenning en blootstelling gee aan die werk wat hulle daagliks doen, vertel Juan de Lora, landelike ontwikkelingskoördineerder by die Wes-Kaapse departement van landbou.
“Dit is ’n manier om te wys dat landbou belangrik is, maar so ook die landbouwerker, want sonder hulle is daar nie kos vir die tafel op ’n daaglikse grondslag nie.”
Hy voeg by hoewel landelike veiligheid nie deel van hul mandaat is nie, besef die koördineerders van die departement se plaaswerkersprogram dat geen kos beskikbaar sal wees as die produsent en hul werkers nie veilig is nie. So ook sal die ekonomie in die Wes-Kaap terselfdertyd ’n knou kry, verduidelik hy verder.
Sanywa het drie jaar gelede uit die Oos-Kaap as ’n student as deel van sy praktiese verpligtinge by Chalala-varkboerdery aangesluit.
Die boerdery het hom die geleentheid gegee om na die plaas terug te keer kort nadat hy sy studies as landboubestuurder by die Nelson Mandela-universiteit amptelik voltooi het.
Hy het hom sedert 2023 intussen tot algemene bestuurder opgewerk.
Sanywa het die toekenning as ’n groot eer beskryf wat hy tot voordeel van sy toekoms wil gebruik.
Volgens hom is daar baie toekomsgeleenthede op die betrokke plaas, wat hy met albei hande gaan aangryp.
Sanywa het na afloop van die prysuitdeling genoem dat hy baie dankbaar en gelukkig oor die toekenning is.
Marlon Coert, verlede jaar se algehele wenner, het Donderdag die geleentheid gekry om die toekennings saam met Wayne Newman van Shoprite Freshmark (hoofborg) aan die onderskeie wenners te oorhandig.


