Dit is reeds die begin van Augustus, en die jaar, tot nou, het verbygevlieg en soos klokslag het middeljaar-‘blues’ aan almal se deur kom klop.
Langeberg-inwoners skarrel om hul nuwejaarvoornemens te bereik, staan sukkel-sukkel in die oggende op en voel ná elke beurtkrag-gleuf al meer moedeloos. Nietemin is dit noodsaaklik om volstoom voort te ploeter en dié gevoel te bestuur.
Middeljaar-blues
Pieter Visagie, ’n opvoedkundige sielkundige in Worcester, het telefonies aan die Breederivier Gazette verduidelik middeljaar-”blues” gaan gepaard met ’n gebrek aan “innerlike motivering” om die jaar deur te sien.
Volgens hom word seisoenale affektiewe versteuring (SAD) tydens die wintermaande by ’n groot aantal mense gediagnoseer wanneer die omgewing droewig, koud en reënerig is, wat tot daardie middel-van-die-jaar-moegheid kan bydra.
“Aan die begin van die jaar het mense ook voornemens, en as dit nie bereik word nie, is mense geneig om gedurende dié tydmismoedig te raak; die innerlike motivering is nie meer daar nie,” het Visagie verduidelik.
Volgens hom speel beurtkrag en die land se huidige ekonomiese en politieke klimaat ook ’n rol, omdat dié aspekte dit moeilik maak om kos op die tafel te sit, rekeninge te betaal en ander finansiële pligte na te kom.
Wenke
Hoe gemaak indien jy middeljaar-blues beleef?
Die geheim, volgens Visagie, is om ’n goeie ondersteuningsnetwerk te hê, en om “te praat oor hoe jy voel,” en nie jou gedagtes ’n geheim te hou totdat dit bottelnek en ’n groter frustrasie veroorsaak nie.
Ander handige wenke is om “te oefen, aanpasbaar te wees by jou huidige situasie, reg te eet, en positiewe denke aan te moedig”.
“Mense moet ’n bietjie meer veerkragtig wees, en ’n manier kry om rondom hul huidige omstandighede te funksioneer,” het Visagie gesê.
Indien aspekte nie toegepas word nie, volgens hom, loop ’n mens die gevaar om passief, moedeloos en depressief te raak, wat middelmisbruik kan aanmoedig.
Volgens Visagie het hy voorheen gereeld ’n toename in pasiënte gedurende dié tyd van die jaar ervaar.





