Landbouwerkers in die Swartland-streek is die afgelope Donderdag by Allesverloren se kuierlokaal op Riebeek-Wes vir hul toewyding en harde werk met toekennings vereer.
Vanjaar was dit Wynkeldershoek, ’n vrugte- en tafeldruifboerdery teen die hange van Kasteelberg, se beurt om breëbors te staan nadat een van hul personeellede met die gesogte Landbouwerker van die jaar-prys weggestap het.
Aphendule Dyomfoma, wat die afgelope drie jaar as voorman vir Wynkeldershoek werk, was een van 27 deelnemers wat dié jaar vir die kompetisie ingeskryf het. Dyomfoma het ook as die wenner in die Voorman-kategorie uitgeblink. Hy sal hierna volgende week op 12 Oktober op provinsiale vlak teen ander streekswenners meeding.
Die Prestige-landboutoekennings word jaarliks deur die Wes-Kaapse departement van landbou in vennootskap met Shoprite aangebied. Die prysuitdelingsgeselligheid poog sedert 2002 om op ’n opbouende wyse erkenning te gee aan die waardevolle bydrae wat landbouwerkers tot die volhoubare groei van die land se landbousektor lewer. Die geleentheid het vanjaar sy 20ste bestaansjaar gevier.
Wat begin het as ’n plaaslike kompetisie in die Hexvallei het intussen tot ’n nasionale geleentheid gegroei met inskrywings uit 15 streke. Dié streek se deelnemers is vanjaar in nege kategorieë benoem nadat inskrywings volgens meriete deur ’n paneel landboukenners geëvalueer is en onderhoude met die deelnemers gevoer is om hul kennis in hul spesialiteitsgebied te toets.
Die Swartland se Prestige-landbouwerker van die jaar-prysuitdeling word jaarliks deur Jolene Janse van Rensburg, die Swartland- wyn-en-olyfroete se bestuurder, gekoördineer en suksesvol uitgerol om uiteindelik plaaslike landbouwerkers te vereer.
Wynkeldershoek pronk in dieselfde asem met nóg wenners. Franzette Fortuin, wat nou al vyf jaar daar werk, is as die wenner in die afdeling vir algemene werkers gekroon, terwyl die boerdery op sy beurt as die beste presterende plaas benoem is. Ruan van der Mescht, die oorhoofse bestuurder, het dié prys gewen.
Mary-Ann Arendse is as naaswenner in die afdeling vir administratiewe personeel vereer, terwyl Olebile Morolong ’n derde plek in die afdeling vir besproeiingspesialis gewen het.
Noland Arendse het ’n tweede plek in die afdeling vir tegniese operateur losgeslaan.
Die prys vir die wenner met die beste potensiaal is aan Kay-Louise Heynse van die Kloovenburg-wyn-en-olyf-landgoed oorhandig. Kloovenburg pronk met nóg twee wenners in ander afdelings. Die wenner in die afdeling besproeiingspesialis is aan Lodewyk Louw toegeken. Jan Fielies van Org de Rac het hier as naaswenner uitgestaan. Deon Lukas, ook van Kloovenburg, het op sy beurt die prys as wenner in die afdeling tegniese operateurs losgeslaan. Clifton Julies van Paardebosch het ’n derde plek ontvang.
Die wenner in die afdeling vir administratiewe beampte was Courtney Appollis van Pulpit Rock. Werner Appollis van Goedgedacht het die derde plek verower.
Sidwell Oppelt van Slimsun is as naaswenner in die afdeing vir algemene werker benoem, terwyl Luthando Jam-Jam van Swartland-wynkelder die derde plek gewen het.
In die afdeling vir trekkerdrywers het Jean-Claude Alkaster van Lammershoek as wenner uitgeblink. George Booysen van Kloovenburg was tweede en Johannes Lewies van Org de Rac het die derde plek ingeneem.
Rooidraai se Christopher Suister is as naaswenner in die afdeling vir beste voorman, benoem, terwyl Relebahile Sephiphathi van die plaas Chalala die derde plek ingeneem het.
Die nasionale prysuitdeling word vanjaar op 5 November gehou.





