Mary Corpe Silver is ’n bekende in Suid-Afrika sowel as in Engeland, waar sy grootgeword en naam as ballerina gemaak het deur onder andere in 1981 voor koningin Elizabeth op te tree.
Vandag woon dié passievolle ballerina immers in McGregor, waar sy in 2011 die First Step-balletskool, ’n organisasie sonder winsbejag, geopen het en wat tans gratis dansklasse aan 145 kinders bied.
Silver se loopbaan as ballerina asook florerende (gratis) dansskool het soveel bekendheid verwerf dat tot kykNet se Kwêla die skool besoek het vir ’n insetsel in September.
Volgens Silver weet sy nie presies wanneer die insetsel op televisie sal verskyn nie, maar kan lesers wel waarsku dat dit volgende maand sal wees.
“Hoe ek in Suid-Afrika beland het, is ’n interessante storie,” sê Silver.
“Om die storie kort te hou – ek het uitgevind ek het ’n halfsuster wat in McGregor woon, en toe ek by haar kom kuier het, het ek dit so baie geniet, dat ek in 2011 hierheen getrek het.”
Volgens Silver het sy die dansskool, wat ballet- en kontemporêre dans-klasse insluit soos hip hop en moderne dans, in 2011 begin en tydens 2017 as ’n organisasie sonder winsoogmerk geregistreer het sodat sy vir noodsaaklike finansiering kon aansoek doen.
Vandag neem kinders van vyf- tot 15-jarige ouderdom en wat meestal uit arm gemeenskappe in en om McGregor asook so ver as Robertson kom, klasse by Silver.
Volgens haar is die voortbestaan van dié dansskool nie moontlik sonder haar “regterhand”, Ennie McNiel, nie.
Bekende name soos die violis André Rieu asook die departement van kultuursake en sport en die Langeberg-munisipaliteit, help Silver om die dansskool aan die lewe te hou.
“André Rieu het deur ’n ander skenker van ons te hore gekom en net voor Covid-19 ’n bussie geskenk waarmee ons die dansers na konserte vervoer en ook dié wat in Robertson woon, vir dansklasse oplaai,” het Sliver gesê.
Die dansskool het onlangs verskeie pryse by die Montagu- jeugkunstefees gewen en ook in groot kunshuise soos die Artscape- en Baxter-teaters opgetree, waar ’n persentasie van die kaartjieverkope aan die dansskool gegaan het.
Die skool is ook binnekort in die MOVE-danskompetisie in Kaapstad in September te sien.
Volgens Silver is die dansers wat by haar lesse neem, nog op skool, en kon dus nog nie hul passie as ’n professie uitleef nie, maar sy het bygevoeg sy rig wel ’n student van Zolani buite Robertson af, wat by die Jazzart-dansskool in Kaapstad studeer en optree.
Silver vra tans R75 per jaar as ’n registrasiefooi, maar akkommodeer skoliere wat nie dit nie kan bekostig nie.
Sy het ook met opgewondenheid vertel dat ’n skenker tans besig is om ’n dansskool te bou.. Meer inligting oor die First Step balletskool kan hul webtuiste op https://firststepballetmcgregor.co.za/ besoek word.





