Coenie Botes (67) van Robertson sterk goed aan nadat hy onlangs sy arm gebreek het toe hy uit ’n boom val wat hy besig was om te snoei. Foto: JP Myburg


’n Plaaslike inwoner van die Langeberg, wat op ’n plaas net buite Robertson woon, het ’n nare ondervinding gehad toe hy uit ’n boom geval en sy een arm gebreek het.

Coenie Botes (67), wat al meer as ses dekades in die omgewing woon, is bekend in die gemeenskap vir sy groenvingers en sy liefde vir tuinmaak. Ten spyte van sy ouderdom was hy nog altyd ‘n aktiewe lid van die gemeenskap.

Coenie was Saterdag 11 Februarie besig om die takke van ‘n hoë boom in sy agtertuin te snoei toe hy sy balans verloor en grond toe getuimel het. Die val was onverwags, en hy het ongemaklik geland en dadelik ‘n skerp pyn in sy arm gevoel. Ten spyte van die pyn het Coenie dit reggekry om self op te staan en sy pad terug na sy huis te vind, waar hy sy vrou, Nina, geroep het.

“Ek werk gereeld in die tuin en verkies om self my takke te snoei. Ek het nog nooit ’n probleem gehad nie, maar ek het my balans verloor en hard geval.

“Ek het lelik gevloek,” skerts hy.

Die ambulans het kort ná sy vrou se oproep opgedaag en Coenie is na die plaaslike hospitaal vervoer.

Die dokters het vasgestel hy het sy arm in die val gebreek en hy sal vir ’n paar weke gips moet dra om sy arm te genees.

“Ek het hom gewaarsku dat hy oud raak en nie meer alles kan doen soos voorheen nie. Hy het mos nie ore nie,” voeg Nina by.

Die nuus van Coenie se ongeluk het vinnig deur die dorp versprei en sy bure en vriende het om hom saamgedrom om hul ondersteuning te bied en te help op enige manier wat hulle kon.

“Hulle het vir ons etes gebring, aangebied om take te doen en wou selfs in die tuin help, want hulle weet hoe erg ek oor my tuin en netheid is. Ek het my been ook beseer, maar nie gebreek nie. Ek probeer maar minimaal beweeg en net te rus. Dit is moeilik. Ek was laas buite die huis toe ek Sondag by die huis aangekom het.”

Ten spyte van die terugslag het Coenie in goeie gees gebly en hy is dankbaar vir die ondersteuning wat hy van sy gemeenskap ontvang. Hy is geraak deur die vriendelikheid van sy bure en het aan Gazette vertel hy voel geseënd om in ’n dorp te woon waar mense vir mekaar omgee.

Terwyl hy herstel, sien Coenie daarna uit om terug te gaan na sy tuin en weer ’n aktiewe lid van die gemeenskap te wees.

“Ek was jare lank in die tuinboubedryf. Hierdie ongeluk was ’n herinnering dat ongelukke met enigiemand kan gebeur, maar ook dat die krag van die gemeenskap en die vriendelikheid van ander ons kan help om deur moeilike tye te kom. Die Here was my ook genadig. Dit kon erger gewees het,” vertel hy aan Gazette.

Selfs in die lig van ’n onverwagte terugslag, het sy positiewe gesindheid en die ondersteuning van sy gemeenskap hom op die herstelpad gehelp.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article