Die gewilde Malmesbury Fisheries in Voortrekkerstraat het derduisende rande se skade opgedoen nadat ’n bakkie deur die winkel geploeg het. Foto: Anan Jacobs


’n Motoris is Saterdagaand (9 Julie) in hegtenis geneem weens beweerde dronkbestuur nadat hy in ’n bakkie deur die bekende viswinkel in Voortrekkerstraat, Malmesbury Fisheries, geploeg het.

Volgens ’n plaaslike polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, is die polisie omstreeks 22:00 na die toneel ontbied. Die 28-jarige bestuurder, wat alleen in die voertuig was, het na bewering beheer oor die bakkie verloor en deur die winkel se voorkant gebars. Hy het beserings vrygespring, maar is op die toneel in hegtenis geneem nadat vermoed is dat hy onder die invloed van alkohol bestuur het.

Emanuel de Abreu, die eienaar en direkteur van Malmesbury Fisheries, het Maandagoggend aan Swartland Gazette gesê hy vermoed die voorlopige skade is nagenoeg R200 000, maar kan dit nog nie bevestig nie.

“Volgens wat ek kan sien, is die voorkant van die restaurant verwoes. Die vensterrame, tafels en my deli se yskaste is ook weens die slag van die botsing beskadig,” het hy gesê.

De Abreu het gesê dit is die eerste keer dat so iets gebeur vandat hy eienaarskap van die viswinkel oorgeneem het.

Die restaurant sal vir die volgende twee weke bouwerk ondergaan terwyl hulle die skade probeer herstel, maar klante kan steeds deur die loop van die dag hul bestellings vir wegneemetes kom plaas.

“Klante wat kies om buite te sit, sal dit kan doen, maar ons verwag ’n tekort aan stoele,” het de Abreu verduidelik.

Hulle sal van vandag (Dinsdag) terugkeer na die gewone handelsure.

’n Klagte van dronkbestuur word ondersoek. Die 28-jarige bakkiebestuurder is Sondag op waarskuwing vrygelaat en sou gister (Maandag) op bogenoemde aanklag in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article