Die Robertson-polisie is op 23 Junie na ’n vullishoop in Nkqubela, Robertson ontbied waar die lyk van ’n baba deur verbygangers gevind was.

“Met die polisie se aankoms op die toneel het hulle ontdek die baba se naelstring was om sy nek gedraai. Die lyk het langs ’n watersloot in Ntlakotlazastraat gelê,” verduidelik ’n woordvoerder van die Robertson-polisie.

Hy verduidelik voorts daar was geen teken van lewe met die polisie se nadere inspeksie van die babalyk nie.

“Dit was natuurlik ’n pasgebore baba,” het die woordvoerder bevestig.

Die Robertson-polisie vra dat enige een met inligting hieroor die polisiestasie kontak.

“Niemand het gesien wie die baba se lyk daar gestort het nie.

“Niemand het ook nog na vore gekom nie. Daar is geen inligting van iemand wat dalk swanger kon wees, wat nou nie meer swanger is nie, maar daar geen baba is nie.”

Dit is onduidelik of dit ’n babadogter of -seuntjie was.

Enige met inligting wat die polisie kan help met die ondersoek word gevra om die polisiekantoor by 023 626 8340 te bel en met AO Rachel Burger te praat.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article