’n Ashton-speler hardloop op volle vaart met die bal, terwyl Jack van Wyk, linkervleuel van Villagers, gereed maak om hom te probeer keer. Foto: Norman Evertson


ASHTON – Die Boland-rugbyunie se klubrugbyligawedstryde in die Breë-Langebergstreek het Saterdag (1 April) in alle erns afgeskop.

Ashton United en Villagers Montagu het mekaar op die Cogmanskloof-sportterrein in Ashton gepak, en wat ’n lekker opwindende rugbywedstryd was dit nie.

Die uitslag was tot aan die einde in die weegskaal.

Ashton het die knoop uiteindelik deurgehaak toe Nathaniël Schericka teen die einde gaan druk het nadat die twee spanne nog kort voor die eindfluitjie 41 elk gelykop was.

Anrich Nelson (heelagter) het Schericka se drie verdoel en so het die tuisspan sy eerste ligawedstryd 48-41 beklink.

Ondanks die feit dat die besoekers met hul swaar pak voorspelers die oorhand in die vaste skrums gehad het, was dit deurgaans ’n redelik gelykopstryd.

Hoe dit ook al sy – ’n David Wagenaar-strafdoel het Ashton vroeg 3-0 op die voorvoet geplaas.

Villagers het egter die voortou geneem nadat ’n lynstaan vir Ashton in sy kwartgebied skeefgeloop het.

Die bal het in die besoekers se Bradley Jumaat (stut) se hande beland. Hy dit vir Jayden Pieterse (binnesenter) aangegee, wat vir sy span se eerste drie oorgeval het.

Beon Hartnick (regtervleuel) het verdoel om die telling 7-3 te maak.

Ashton het kort hierna nader gekruip met ’n suksesvolle strafdoel deur Nelson (7-6).

Ashton is enkele minute later vir ’n skrumoortreding gestraf, waarna Hartnick die telling met ’n strafdoel na 10-6 vergroot het.

Hierna het die wedstryd in ’n een-vir-jou-een-vir-my-gedoente ontaard.

Albei spanne het egter talle foute gemaak en die uitslag was tot kort voor die einde nog op ’n mespunt gebalanseer.

Ashton was egter vasberade om sy eerste ligawedstryd te wen en toe Villagers op die middellyn vir ’n oortreding gestraf word, het sy skerpskutter, Nelson, dadelik aangedui hy gaan pale toe mik om die wedstryd vir sy span te probeer wen.

Die skop was egter te kort, maar nie lank daarna nie het Schericka sy span se sesde drie gedruk, wat deur Nelson verdoel is, en daarmee het Ashton die wedstryd 48-41 in sy guns beklink en ’n voltal ligapunte (5) behaal.

Villagers is darem ook nie heeltemal met leë hande huis toe nie. Hy het twee bonuspunte uit die titaniese stryd verdien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article