MONTAGU – Ashton United het Saterdag (18 Februarie) die Montagu-rugbyklub in ’n vriendskaplike wedstryd op die King Edward-sportterrein met 26-24 getroef.
Ashton was rustyd heel gemaklik met 19-0 voor nadat hy in die eerste helfte drie keer agter die tuisspan se doellyn gaan kuier het.
Ashton het van die afskop af met groot geesdrif gespeel en nogal verbasend maklik deur Montagu se eerste duikslae gebreek.
Die tuisspan, wat die besoekers in die skrums opdraande gegee het, se verdediging was in die eerste veertig minute egter nie goed nie. Dit het daartoe gelei dat die besoekers groot stukke veld gewen het. Hul gebrekkige verdediging op daardie tydstip het hulle boonop duur te staan gekom.
John Paul Pekeur (slot), Claudius Mase (linkervleuel; onderskep) en Nealin Maarman (binnesenter) het almal in die eerste helfte vir die besoekers gaan druk. Twee van die drieë is deur Brendon Plaatjies (heelagter) verdoel.
Dit het die rustydtelling op 19-0 in die besoekers se guns te staan gebring.
Ná die welkome blaaskans was Montagu egter ’n ander span.
Hy was vol vuur, begeesterd en sy verdediging stukke beter. Minute ná die aanvang van die tweede helfte het hy met ’n merkwaardige terugvegpoging vorendag gekom.
Dit is ingelei deur die plaasvervanger-senter, Doné Davids, wat ná ’n vlymskerp breekslag sy sentermaat, Mac-John Daniëls, weggestuur het vir hul span se eerste drie.
Kort hierna het die tuisspan se spoedvraat-vleuel, Lleyton Davids, sy eie lugskop opgevolg, die bal uit die lug gepluk en rieme neergelê, en met ’n sierlike swaeltjie-duikslag ’n pragdrie agter die doelpale afgerond.
Handré Ontong (heelagter) het verdoel en skielik was Montagu terug in die wedstryd met die telling 19-12 met Ashton steeds voor.
Ashton was egter nie van plan om dié wedstryd – vriendskaplik of te not – te verloor nie.
Hy het meedoënloos aangeval en ná volgehoue druk op die tuisspan se doellyn het Daan Pekeur (losskakel) soos ’n warm mes deur botter deur die verdediging gesny en pragtig afgerond. Dawid Wagenaar se doelskop was tussen die pale deur en die telling het tot 26-12 gestyg.
Die spanning het begin oplaai toe Montagu hierna twee vinnige drieë kort na mekaar ingeryg het. Eers het Jacky de Villiers (plaasvervanger-regtervleuel) gaan druk en daarna het die haastige Davids (linkervleuel) aan die buitekant van sy opponent verbygesnel vir sy tweede drie agter die pale.
Ontong was in die kol met die doelskop. Dit het sy span binne trefafstand gebring met die telling wat aangeskuif het na 26-24. Ashton was dus steeds ’n kortkop voor.
Die intensiteit van die wedstryd het verder toegeneem toe Ashton na aan die einde van die wedstryd ná twee geelkaarte met 13 spelers moes speel.
Die besoekers het egter alles in die stryd gewerp en vasgebyt om die opwindende vriendskaplike stryd met 26-24 te beklink.





