Marco Jones, die kragtige losvoorspeler van Rangers Robertson, bars oor die doellyn vir sy span se tweede drie. ’n Ashton-verdediger probeer vergeefs om hom te stuit. Foto: Norman Evertson


ROBERTSON – Talle rugbyklubs in die Breë-Langebergafdeling het Saterdag (18 Maart) hul voorbereidingsprogramme vir die nuwe rugbyseisoen, wat eersdaags amptelik begin, met vriendskaplike wedstryde afgesluit.

Die Rangers Robertson en Ashton United was in ’n titaniese stryd op die Van Zylstraat-sportterrein in Robertson gewikkel.

Dié kragmeting was ’n ware armdruk-stryd waar nie een van die twee spanne wou bes gee nie.

Sake het taamlik gelykop verloop, en teen rustyd het die spanne ewe veel punte (7-7) op die telbord gehad nadat beide ’n verdoelde drie aangeteken het.

In die tweede helfte het hulle op ’n tydstip weer gelyk getrek met 14-14. Dit was uiteindelik ’n strafskop deur sy heelagter, Anrich Nelson, wat die louere aan Ashton besorg het.

Die besoekers het die opwindende kragmeting 17-14 gewen.

Met die begin van die wedstryd het Rangers se lenige regtervleuel, Navan Padiachy, die toeskouers in vervoering gehad toe hy die bal met die afskop uit die lug gepluk en deurgenael het vir sy span se eerste drie – sonder dat ’n vinger op hom gelê is.

Die doelskop was tussen die pale deur en die tuisspan het binne enkele sekondes ná die begin van die wedstryd 7-0 voorgeloop.

Die besoekers het egter nie dat dié vinnige drie hom van stryk bring nie en het kort hierna teruggeslaan met ’n pragdrie deur sy buitesenter, Algervin Ivanin, wat deur David Wagenaar verdoel is.

Die spanne het mekaar deurentyd kwaai aangeval, maar ook goed verdedig – soveel so dat nie een van hulle verder punte in die eerste veertig minute kon aanteken nie.

Met rustyd was die telling steeds 7-7.

Nadat die spanne kante geruil het, het Ashton egter die voortou geneem toe Marvin Januarie (regtervleuel) gaan druk en Nelson met die doelskop geslaag het om die telling na 14-7 te neem.

Rangers het hierna met ’n geweldige aanslag gekom, wat Marco Jones, ’n kragtige losvoorspeler van die tuisspan, met ’n pragdrie afgerond het. Die doelskop was in die kol en die spanne het vir ’n tweede keer in die wedstryd gelyk getrek met die telling 14 punte elk.

Hoewel al twee spanne tydens die wedstryd by tye goed aangeval het, is talle hanteerfoute op kritieke tye begaan, wat belowende bewegings in die wiele gery het. Daarmee het hulle geleenthede om punte aan te teken, verspeel.

Hierbenewens moes albei spanne ook in verskillende stadiums van die wedstryd met veertien spelers oor die weg kom nadat die skeidsregter, Habrey Philander, strafkaarte (geel) uitgedeel het – twee aan die besoekers en een aan die tuisspan.

Ondanks die verspeelde kanse het Ashton daarin geslaag om die wedstryd met ’n strafdoel te beklink en daarmee sy voorseisoense program op ’n positiewe noot afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article