Beon Hartnick, die vlugvoetige vleuel van Villagers, breek deur twee Ashton-verdedigers. Hartnick het twee van sy span se drieë gedruk. Die skeidsregter, Gabriël Mars, hou sake dop. Foto’s: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

ASHTON – Nadat Ashton United in die eerste ronde van die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbekerkompetisie naelskraaps teen Montagu Villagers by die King Edward-sportterrein verloor het, het dié span Saterdag (13 Augustus) die bordjies op die Cogmanskloof-rugbyveld verhang.

Ashton het dié opwindende tweederondeligawedstryd, wat by tye lekker hardlooprugby opgelewer het, 32-25 gewen nadat hy rustyd reeds 24-12 voorgeloop het.

Aanvanklik het die besoekende Villagers goed begin deur binne ’n kwartier ná die afskop punte op die telbord te kry nadat sy heelagter, Handré Ontong, gaan druk het en sy losskakel, Jaydon Pieterse, verdoel het.

Skaars vyf minute later het Ashton teruggeslaan met ’n onverdoelde drie nadat Dawid Wagenaar, die losskakel, wat vroeër met ’n strafdoel-poging misluk het, agter Villagers se doellyn gaan kuier het.

Kort hierna het Ashton die voortou geneem toe sy kantman, Neven Lukas, ná kragtige dryfspel deur sy mede-voorspelers vir sy span se tweede drie oorgeval het. Die doelskop was mis, maar die telling het tot 10-7 gegroei.

Minute later het Villagers weer voorgeloop nadat sy spoedvraat-vleuel, Beon Hartnick, die bal – wat veld-op geskop is – opgevolg, beheer en gaan druk het. Die redelike maklike doelskop is egter verbrou, maar nogtans was Villagers hierna weer ’n kortkop voor met die telling 12-10.

Dié geringe voorsprong van die besoekers was egter van korte duur. Kirwan Cupido, die vinnige regtervleuel van die tuisspan, het kort hierna ’n verspot maklike drie gedruk toe Villagers se linkervleuel op sy doellyn die bal onder groot druk na ’n spanmaat probeer aangee het.

Die aangee was egter te kort en Cupido het die bal, wat in niemandsland geval het, net eenvoudig opgepik en agter die doellyn geplant vir sy span se derde drie, wat deur Wagenaar verdoel is.

Ashton het weer die voortou geneem met die telling 17-12 en daarna sy voorneme duidelik gemaak. Hy wou die tempo van die wedstryd lig.

Toe hy weer ’n strafskop kry, het hy ’n vinnige tikskoppie geneem en begin hardloop. Een of twee spelers het die bal hanteer voordat dit in die haker, Jonathan Lukas, se hande beland het, wat vir sy span se bonuspunt-drie oorgeval het. Wagenaar het verdoel.

Kort voor rustyd het Villagers ná ’n mislukte strafdoelpoging verwoed, maar tevergeefs, aangeval.

Ashton se verdediging het goed gehou.

Toe die spanne uiteindelik gaan water drink, was Ashton steeds gemaklik voor (telling: 24-12).

Ná rustyd het Villagers begin terugbaklei.

Eers het Pietersen met ’n strafdoel geslaag, en daarna het die vlugvoetige Hartnick talle verdedigers met sy spoed geklop voordat hy ’n pragdrie met ’n sierlike duikslag agter die doelpale afgerond het.

Die plaasvervanger-losskakel, Maxwell Klaasen, was in die kol met die doelskop.

Dit het Ashton se voorsprong na slegs twee punte is verklein met die telling wat op 24-22 te staan gekom het.

Nie lank hierna nie het Ashton egter weer sy voorsprong met drie punte gerek ná ’n suksesvolle Wagenaar-strafdoel.

Daarna was daar ’n langerige onderbreking in die spel as gevolg van ’n speler wat ’n kopbesering opgedoen het. Na bewering het die skeidsregter, Gabriël Mars, aangedring dat die speler as voorsorgmaatreël die veld verlaat, selfs al het die speler glo gesê hy is oukei.

Na hervatting van die spel het Ashton die wedstryd so te sê verseël met ’n onverdoelde drie deur die plaasvervanger-vleuel, Algervin Williams.

Trouens, Ashton was daarna nog ’n keer oor Villagers se doellyn, maar ná konsultasie met die een lynregter, Ettiene van Rooyen, is beslis dat die bal in die beweging wat die drie voorafgegaan het, aangeslaan is en daarom het Mars nie die vyfpunter toegeken nie.

Villagers, wat nooit wou bes gee nie, het teen die einde van die wedstryd met ’n suksesvolle Klaasen-strafdoel verseker dat hy ten minste ’n bonuspunt uit die wedstryd kry omdat hy met slegs sewe punte verloor het.

Die eindtelling was 32-25 in Ashton se guns.

Die tuisspan se dissipline het hom twee geelkaarte besorg – die flank Neven Lukas en die nommer 12-senter moes elk tien minute in die “yskas” gaan afkoel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article