Verskeie partye en belangegroepe het hul vreugde uitgespreek oor die aankondiging dat Tiger Brands vir ten minste een seisoen nog sy inmaakfabriek op Ashton gaan oop hou.
Tiger Brands het verlede week aangekondig dat hy voorlopig nie sy inmaakfabriek in Ashton gaan sluit nie.
Die maatskappy het Dinsdag in ’n persverklaring gesê hy gaan sy bedrywighede by Langeberg & Ashton Foods (L&AF) vir nog ’n seisoen voortsit.
Die Wes-Kaapse regering sê hy verwelkom die verwikkeling.
Ivan Meyer, die provinsiale minister van landbou, het verlede Dinsdag met verteenwoordigers van Agri-Wes-Kaap, produsente en die Inmaakvrugteprodusentevereniging vergader.
“Ons het saamgestem dat dit ons prioriteit is om die landelike ekonomie en werksgeleenthede in die Langeberg- en Ashton-gebiede te beskerm. Daarom is die aankondiging dat die fabriek vir nog ’n seisoen oopgehou sal word goeie nuus, aangesien dit meer tyd moontlik maak om ’n geskikte belegger te bekom,” sê Meyer.
“Noudat Tiger Brands en sy sleutelvennote ’n ooreenkoms bereik het wat voorsiening maak dat bedrywighede tot die komende seisoen aangaan, moet partye hul energie daarop toespits om die langtermynvolhoubaarheid van die fabriek en werksgeleenthede te verseker.”
Die minister het die versekering gegee dat die Wes-Kaapse departement van landbou sal voortgaan om die fabriek te ondersteun in sy poging om ‘n belegger te identifiseer.
Volgens die Good-party is werkloosheid in Suid-Afrika ’n nasionale krisis op sy eie en in ag genome die stadige ekonomiese vordering met heropbou ná die Covid-19-pandemie, kan die Wes-Kaap dit nie bekostig om die sluiting van die fabriek te aanskou nie. Good het die hoop uitgespreek dat daar vinnig ’n koper gevind sal word.
Die VF Plus in die Langeberg-munisipaliteit het ook gesê hy is bly dat hy ’n rol in die redding van die onderneming kon speel.
Die sluiting van die fabriek sou ’n verlammende ekonomiese effek op die Langeberg-streek gehad het en die geleentheid is nou geskep vir behoorlike onderhandelinge en beplanning om ’n nuwe eienaar vir die fabriek te vind.
Die VF Plus sê hy kon daarin slaag om sekere beleggers in kontak met produsente van die ingelegde produk te bring en verwag ’n positiewe uitkoms in die onderhandelings om die fabriek se voortbestaan te verseker.
Tiger Brands se besluit om die fabriek nie te sluit nie, is geneem nadat ’n ooreenkoms bereik is met verteenwoordigers van seisoenale werkers en plaaswerkers, L&AF-werknemers en produsente.
Hiermee saam, sê Tiger Brands, gaan hy voort met onderhandelings en gesprekke met belanghebbendes om ’n koper te kry wat in staat is om die fabriek te laat voortgaan met ingang van die volgende seisoen.
Tiger Brands sê ná twee jaar se volgehoue onderhandelings en gesprekke kon hy steeds nie ’n volhoubare koper vir die fabriek kry nie, maar in die afgelope weke het ’n “aansienlike aantal partye belangstelling in verdere gesprekke oor die moontlike verkryging van L&AF uitgespreek”.
’n Kooptransaksie sou egter nie afgehandel kon word vir ’n koper om die 2022-’23-oes met sukses te kan hanteer nie.
Die maatskappy het dus sy sleutelvennote betrek in die besluit om nog ’n seisoen vrugte te bly verwerk.
“Die buigsaamheid, oopkop-manier en goeder trou wat deur alle partye getoon is om hierdie ooreenkoms te kon bereik, laat ons nou toe om noukeurig te soek vir nuwe voorstelle ten opsigte van die maatskappy se inmaak-bedrywighede,” sê die maatskappy.
Dit verseker dat die fabriek se 250 permanente werknemers en die altesaam 4 300 seisoenwerkers se werk vir eers veilig is vir minstens nog een seisoen, sê Noel Doyle, Tiger Brands se uitvoerende hoof.
“Die verwerking en bemarking van sagtevrugte bly onderhewig aan die onvoorspelbaarheid van die weer, wisselkoerse en wêreldwye prysdinamika, maar dié ooreenkoms dra betekenisvol by om die risiko van aansienlike bedryfsverliese in die komende seisoen te versag.”
Tiger Brands sê hy sal intussen alle moontlikhede ondersoek, en terselfdertyd weer kyk na die lewensvatbaarheid van sy huidige belang in die fabriek. Die maatskappy het ook onderneem om voort te gaan met verbintenisse met die Wes-Kaapse en nasionale regering, en om voort te gaan om gesprekke te voer met moontlike kopers.





