Hoor jy ook deesdae Amore Bekker se stem op Perron FM?
Nee, sy werk nie nou vir hierdie Swartlandse gemeenskapsradio nie – sy is wel op 95.1 FM te hoor omdat sy ’n goeie hart het en onder die indruk gekom het van Goue Aar-ouetehuis se oorlewingsnood.
Dié oud-RSG-omroeper het in tipiese Amore-styl ’n stem-opname gemaak waarin sy alle Swartlanders aanmoedig om bydraes na die tehuis te stuur om hul stygende rekeninge te help betaal.
Perron FM gaan Amore se stemboodskap as mediaborg 24 keer tussen die Kersfeestyd tot April uitsaai.
“Goue Aar kan nie meer alleen oorleef nie; die uitgawes is oorweldigend,” vertel Amore asook Leon Venter, die tehuisbestuurder.
“Die tehuis is vanjaar 44 jaar oud – ’n bate wat nie verlore kan gaan vir die Swartland nie. Goue Aar se sluiting het by talle geleenthede die afgelope twee jaar na die enigste opsie gelyk wanneer die groot uitgawes en te klein inkomste ons in die oë kyk. Die tehuis gee werk aan 48 mense – 35 aan die verpleegkant en 13 by skoonmaak- en voedseldienste. Ons versorg 66 inwoners; mense wat lankal nie meer tuis versorg kan word nie.
“Ons wil graag sien dat die publiek inkoop in ons projek om middagetes vir ons inwoners te borg. Daardie koste beloop ongeveer R50 per dag per inwoner.
“Wanneer mense ’n maandelikse aftrekorder reël om so veel middagetes as moontlik te borg, versterk dit ons hande. As alternatief kan items soos toiletware, doeke vir volwassenes, groente of vrugte aan die tehuis geskenk word.
“Ons verwelkom ook goeie tweedehandse goedere vir ons liefdadigheidswinkel, God’s Grace.”
Amore en Perron FM onderskryf hierdie projek vir ’n Malmesbury-instelling – gaan jy ook betrokke raak?. Hou gerus Goue Aar Tehuis Malmesbury se Facebookblad dop vir meer besonderhede, asook bankbesonderhede en ’n QR SnapScan-kode waarmee betalings gemaak kan word. Kontak gerus die tehuis by 022 486 6240/2058 of per e-pos by admin@goueaar.co.za of manager@goueaar.co.za met enige navrae.





